Gewapende roof ruk Oudtshoorn

Market Fisheries in Victoriastraat op Oudtshoorn wat Maandag die slagoffer was van ’n gewapende roof. Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
’N GEWAPENDE roof Maandag­oggend by die bekende Market Fisheries in Victoriastraat het die week skokgolwe deur Oudtshoorn gestuur.

Teen die druktyd van Die Hoorn gistermiddag was niemand nog in verband met die rooftog in hegtenis geneem nie.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het ses swart mans omstreeks 08:00 by die besigheid ingestap.

Twee mans was gewapen en het die personeel gedwing om die kasregisters oop te maak.

Hulle het al die geld daaruit ge­steel, waarna hulle die geldhouers laat oopsluit en kontant daaruit gevat het. Daar word beraam dat hulle met sowat R400 000 weggekom het.

Visser sê die personeel is aangesê om tydens die rooftog op die vloer te gaan lê. Van hulle selfone is ook ge­steel, waarna die mans in ’n wit Audi vanaf die toneel gevlug het.

Maandag se rooftog volg sowat twee maande nadat een van die eie­naars van Camp Roadhouse op Oudts­hoorn, Jaco Vorster, op 19 Augustus – ook ’n Maandagoggend – deur gewapende rowers voor sy besigheid gekaap en beroof is van geld wat hy wou gaan bank.

Gewapende rooftogte is nie algemeen in die Klein Karoo nie. Daar was egter die laaste tyd verskeie diefstalvoorvalle op Oudtshoorn waarna die beweerde oortreders met voertuie uit die dorp na Kaapstad se kant gevlug het. In twee gevalle is beweerde oortreders op dorpe tussen Oudtshoorn en Kaapstad in hegtenis geneem.