‘Daardie nare rooi lyn’

Grafiek 1 (bo): Die afname in die gemiddelde jaarlikse reënval sedert 1950 by twee reënstasies in die Swartberge. Die rooi lyn is die tendens van reënval sedert 1950. Grafiek 2 (onder): Dié grafiek is saamgestel uit data vanaf die reënvalstasie by die Gamkaberg Natuurreservaatkantoor. Dit bevestig die grafiek uit die Swartbergdata.

DATA van CapeNature oor die jaarlikse reënval in die Swartberge en Oudtshoorn toon ’n duidelike en ontstellende afname oor die afgelope dekades; met die impli­ka­sie dat die dorp dringend beplanning rondom waterbesparingsmaatreëls sal moet doen.

CapeNature is tans besig om ’n lang­termyn bewaringsgebiedbestuursplan vir die Swartberg-kompleks Wêrelderfenisgebied saam te stel en die reënvaldata is daarvoor ontleed.

Jan Vlok, ’n omgewingsadviseur van Oudtshoorn, sê CapeNature het verskeie langtermyn-reënstasies waar die reënval maandeliks gelees word, met twee van die reënstasies (Albertsberg en Dewetsvlei aan onderskeidelik die middel-suidelike en noordelike hange van die Swartberg) wat reeds sedert 1950 data insamel.

Op ’n grafiek wat Vlok op grond van die data by dié twee reënstasies saamge­stel het (grafiek 1), toon ’n rooi lyn die tendens van reënval sedert 1950 daar aan. Dit toon dat die gemiddelde jaarlikse reënval in die Swartberge verminder het van sowat 760 mm per jaar 60 jaar gelede na sowat 520 mm tans – ’n vermindering van sowat 30%.

“Dit is nogal skokkend. Ek het soortgelyke analises gedoen van die ses reënvalstasies wat sedert 1980 die reën meet en die resultaat is baie soortgelyk. Die nare rooi lyn het ’n sterk afwaartse kurwe. In laasgenoemde geval is die afname sowat 25%, wat bevestig dat die gemiddelde jaarlikse reënval ook oor die afgelope 35 jaar afgeneem het.

“As ek die data van die reënstasies interpreteer vir die Oudtshoorn-dorpsgebied toon dit dat ons gemiddelde reënval van ongeveer 250 mm per jaar verswak het na ongeveer 170 mm per jaar.”

Vlok sê hy wil nie ’n doemprofeet wees nie, maar dat die implikasies van die rooi lyn ernstig is.

“Anders as wat President Brand gesê het, gaan alles nie regkom nie en ons moet ons daarop voorberei.

“Oudtshoorn se hoofwaterbron in die Swartberge sal in die toekoms geleidelik minder water op­lewer. Ontginning van ondergrondse waterbronne is ook nie ’n langtermynoplossing nie, en kan maksimaal as noodmaat­reël gebruik word. Ont­hou dat onder­grond­se waterbronne hervul moet word deur reënval en die nare rooi lyn toon duidelik aan dat die hervulling van bronne besig is om te verswak.”

Vlok het ook gekyk na data vanaf die reënstasie in die Gamkaberg Natuurreservaat. Dié data bevestig die afleidings van Vlok uit die Swartbergdata (sien grafiek 2).

“Ek het ook die reënvaldata vanaf die Oudtshoorn Proefplaas gekry om dubbel seker te maak en die tendens bly dieselfde. Alle aanduidings is dat Oudts­hoorn se gemiddelde jaarlikse reënval besig is om af te neem en dat ons gemiddeld 170 mm tot 180 mm per jaar in die toekoms kan verwag.”