Droogte: Min reën vir dié somer voorspel

Deur Liesel le Roux
VOLGENS ’n voorspelling wat die Suid-Afrikaanse Weerdiens aan die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit voorsien het, word daar nie verwag dat genoegsame reën oor die volgende drie maande sal val om die droogte te breek of dalende damvlakke aan te vul nie.

Adél Supra-Vertue, bestuurder brande, redding en rampbestuur by die munisipaliteit, sê die munisipaliteit  hersien tans hul droogteplan en beoog ook ’n vergadering om alle relevante rolspelers aan boord te kry om daarmee te help.

Die munisipaliteit het onlangs onder Supra-Vertue se leiding die eerste keer keer ’n Ramp­bestuursadviesforum (Disaster Management Advisory Forum) saamgestel soos die Ramp­bestuurs-wet (Wet 57 van 2002) vereis.

Sowat 30 rolspelers het die dag kom saamdink en beplan.

Behalwe vir die droogte en die weer, is risiko’s, die rampbestuursplan en die vervoer van gevaarlike stowwe deur die dorp ook die dag bespreek.

Van die risiko’s wat geïdentifiseer is, soos die riete in riviere, brande in informele nedersettings en vervoer van gevaarlike stowwe, word tans aangespreek.

“Riete sal verwyder word en so help om ’n brandgevaar uit te skakel terwyl dit ook sal help dat die rivier sal kan vloei wanneer dit reën,” het Supra-Vertue gesê.