Gebore Oudtshoorniet nou burgemeester in Nieu-Seeland!

Rehette Stoltz (naasregs) en haar familie, van links saam met haar, Luk Henri, Deon en Alexander. Voor is hul hond, Coco. (Foto verskaf.)

VAN Oudtshoorn tot burgemeester in Nieu-Seeland. Dit is die verhaal van Rehette Stoltz, gebore Oudtshoorniet wat sedert 2019 die burgemeester is van ’n Nieu-Seelandse munisipaliteit, Gisborne.

Rehette, die dogter van Hentie en Ronelle Louw, is in 1976 in die Oudtshoorn Hospitaal gebore. Haar pa is al 45 jaar ’n algemene praktisyn en narkotiseur op die dorp. Haar ma se voltydse werk was om vier kinders groot te maak terwyl sy betrokke was, en steeds is, by liefdadigheidswerk.

Rehette se skoolloopbaan het aan die Laerskool Wesbank begin, en in 1994 het sy gematrikuleer aan die Hoërskool Oudtshoorn.

“Ek het akademies heel goed gedoen, en hokkie was my passie. Ek was in 1994 selfs die kaptein van die Suid-Kaap o.18-hokkiespan,” vertel sy.

“Dit was ’n voorreg om in Oudtshoorn groot te word – ons kon op ons fietse rondrits tussen skool en sport en almal het almal geken. Ek verlang na amper 21 jaar in Nieu-Seeland steeds na Oudts­hoorn. Ons kom elke tweede Kersfees by ons fami­lie op Oudtshoorn en George kuier en tussenin kom hou my ouers Kersfees by ons in Gisborne. Ons is geseënd om gereeld terug te kan keer Oudtshoorn toe vir ’n kuier.

Met Covid was dit onmoontlik om te reis, en ons sien uit daarna om my ouers en broer hierdie Kersfees in Oudtshoorn te besoek!”

Rehette het in 2001 haar MSc-graad in Kardiovaskulere Fisiologie aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Haar meesters-tesis, Cardio-pro- tection by Insulin during Ischaemia, het gefokus op hoe verskillende konsentrasies insulien in die reperfusie-vloeistof die hart kan help herstel na ’n hartaanval. Dit was ook waar sy haar man, Deon ontmoet het.

Hulle is in 2001 nadat hulle hul studie voltooi het, oorsee om die wêreld saam te gaan verken, maar het volgens haar vasgehaak op die eerste plek waar hulle beland het, Gisborne in Nieu-Seeland!

“Gisborne is ’n heerlike kusdorp – ’n mengsel tussen Mosselbaai en Jeffreysbaai. Dit is bekend vir sy heerlike branderplankry-strande en warm klimaat. Almal is baie informeel hier – niemand noem mekaar meneer, mevrou, professor of dokter nie. Almal word op hulle voorname genoem!”

Volgens Rehette is die Kiwi’s warm, ontspanne mense wat “soos ons van sport hou”.

“Hulle is baie gasvry. Toe ek en Deon hier aangekom het, was dit ons plan om vir vier maande te bly en dan terug Kaap toe te gaan vir werk en verdere studie, maar binne ’n maand of twee het ons verlief geraak op Gisborne en sy mense en besluit om ’n bietjie langer te bly.”

Vir Rehette en Deon het “ ’n bietjie langer” vinnig tot ’n jaar gegroei.

“Ons het elke paar jaar besluit om nog ’n paar jaar te bly, en 21 jaar later is ons nog steeds hier!”

Dit is ook hier waar hul twee seuns, Alexander (18) en Luk Henri (16), gebore is.

Hulle is darem nie alleen nie, vertel Rehette. “My suster, Helene en haar man, Jacques en hulle twee jong seuns het in 2020 Gisborne toe getrek, en dit is heerlik om familie hier te hê. Helene werk hier as ’n argitek en Jacques is ’n boekhouer.”

In haar meer as 20 jaar in Gisborne het Rehette al baie vermag. Tussen 2002 en 2004 het sy as la­bo­ratoriumbestuurder by Montana Wines gewerk – dit het as vakansiewerk tydens haar en Deon se reisjaar begin en verander in ’n beroep vir drie jaar.

Met die geboorte van haar seuns het sy ’n paar jaar tuis gebly, maar teen 2008 was haar wiele weer aan die rol.

“Tussen 2008 en 2013 het ek ’n internasionale werwingsbesigheid in vennootskap met ’n tandarts van Auckland besit en bestuur. Ons het tandartse en ander mediese personeel van die Verenigde Koninkryk en die VSA gewerf en hulle in praktyke regoor Nieu-Seeland geplaas.”

Haar betrokkenheid by die politiek van haar nuwe tuisdorp het in 2009 gekom toe sy saam met haar buurvrou en destydse raadslid, Kathy Sheldrake, gaan koffie drink het. “Sy het my oortuig dat ons meer jong, geesdriftige, toekomsgerigte mense in die raad nodig het. Sy het my aangemoedig en in die 2010-verkiesing het ek vir die raad gestaan ​​en is verkies.”

Dit het nie daar gestop nie. In 2013 is sy weer tot die raad en ook die Gesondheidsraad verkies. Haar mede-raadslede het haar ook tot onderburgemeester verkies; ’n pos wat sy tot en met 2019 be­klee het. In 2019 is sy tot burgemeester verkies.

“Dit is ’n voorreg om deel te wees van ’n span wat kwaliteit paaie, water, en basiese dienste aan die mense van Gisborne en die omgewing verskaf. Daar is 50 000 mense in ons distrik. Ons het ook in die laaste paar jaar ’n moderne biblioteek, twee teaters en verskeie fietspaaie gebou en ons is in die proses om ’n 50 miljoen dollar se swembadkompleks te bou. Dit is ’n interessante en uitdagende werk om die burgemeester te wees! Rehette lei tans ’n raad van 13 raadslede.”

Rehette het drie jaar gelede begin om Moari te leer wat haar nog meer geheg aan haar gemeenskap gemaak het. “Engels en Maori is die twee nasionale tale van Nieu-Seeland, saam met geba­- re­taal. “Dit is ’n mooi taal met pragtige spreuke, bekend as whakatauki, as deel van die taal.”

Ten slotte het Rehette’n boodskap in Maori: “In hierdie onsekere Covid-tyd is hierdie whakatauki so waar: He waka eke noa – wat beteken: We are all in this together.” (Deur Stefan Skapie Goosen)

1 Comment on "Gebore Oudtshoorniet nou burgemeester in Nieu-Seeland!"

  1. Albert Grundlingjh | 01/03/2022 at 23:42 |

    Interessante storie

Comments are closed.