Gaar volstruisvleis dalk weer uitgevoer

Foto: Yolande van Dyk


Deur Liesel le Roux
GAAR volstruisvleis vanuit Suid-Afrika kan moontlik binnekort weer na die Europese Unie (EU) uitgevoer word.

Volgens Piet Kleyn, uitvoerende hoof van die SA Volstruisbesigheidskamer (SAVBK), is die aangeleentheid ’n besprekingspunt op die agenda van die betrokke EU-komitee se vergadering van 25 en 26 Februarie.

“Ons hoop regtig ’n besluit sal geneem word dat volstruisvleis weer uitgevoer kan word. Dit gaan bitter taai in die landbou.”

Die EU het verlede jaar in Maart ’n verbod op die invoer van gaar volstruisvleis vanaf Suid-Afrika geplaas nadat ’n EU-oudit van residumoniteringsprogramme in Suid-Afrika gevind het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het nie al die voorskrifte wat gevolg moet word om te kan uitvoer, nagekom nie.

Johan Schoeman, uitvoerende hoof van Klein Karoo, sê die volstruisbedryf is taamlik optimisties dat die uitvoer van gaar volstruisvleis die groen lig sal kry.

“Ons sal hard moet werk om ons verlore mark terug te wen. As ons gelukkig is, kan ons dalk betyds wees om vir die Paasmark uit te voer.”

Verepryse tans uitstekend
Een van die ligpunte te midde van die huidige droogte is ’n goeie vraag na volstruisvere uit die buiteland met uitstekende pryse wat tans behaal word, sê Schoeman.

Hy sê dit kan onder meer toegeskryf word aan ’n laer aanbod omdat boere slaggetalle as gevolg van Avian Influenza verminder het

Oplewing in vraag na gehalteleer
Daar is volgens Schoeman ook tans wêreldwyd ’n oplewing in die vraag na leer van hoë gehalte, wat gehaltevolstruisleer insluit.

Leerpryse sal egter opwaarts bestuur moet word, sê hy, omdat leerpryse onder groot druk was weens ’n wêreldwye ekonomiese insinking wat die luukse leerbedryf beïnvloed het.

“Produsente sal toenemend op die verskaffing van gehalteleer moet fokus.”

Mededingingskommissie sê nee vir samesmelting van Klein Karoo, Mosstrich
’n Teleurstelling vir die volstruisbedryf is egter die afkeuring deur die Mededingingskommissie van ’n aansoek van Klein Karoo International – Klein Karoo Eiendoms Beperk se volstruisbesigheid – en Mosstrich vir samesmelting.

Volgens Schoeman het die Mededingingskommissie dié aansoek net voor Kersfees 2018 afgekeur op grond van sekere bevindings wat hulle gemaak het.

“Klein Karoo en Mosstrich meen egter dié bevindings is nie korrek is nie en gaan daarom na die Mededingingstribunaal appelleer.”

Schoeman sê Klein Karoo en Mosstrich is van mening dat so ’n samesmelting tot voordeel sal wees van die langtermyn voortbestaan van die volstruisbedryf, en dat KKI sowel as Mosstrich se looierye en abattoirs baie meer doeltreffend, gefokus en doelmatig sal kan funksioneer ná so ’n samesmelting.

KKI en Mosstrich sal ná so ’n moontlike same-smelting aandeelhouers wees in ’n nuwe maat­skappy wat voorlopig bekend staan as NEWCO.