Oudtshoorn se trots! Die bekroonde akteur Marlo Minnaar keer met vanjaar se 25ste KKNK terug na sy grootworddorp Oudtshoorn om die hoofrol te vertolk in Athol Fugard se klassieke produksie, Statements After an Arrest Under the Immorality Act – ’n unieke terugblik op die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Marlo Minnaar (7de Laan, Sara se Geheim, Die Boland Moorde) speel die rol van Errol Philander teenoor Liezl de Kock wat Frieda Joubert vertolk.
Deur Liesel le Roux
HY is terselfdertyd bang en opgewonde oor die hoofrol wat hy vanjaar in ’n ikoniese Athol Fugard- toneelstuk by die 25ste KKNK gaan vertolk, sê Marlo Minnaar (7de Laan, Sara se Geheim, Die Boland Moorde).
Marlo, wat op Oudtshoorn grootgeword en skoolgegaan het, vertolk die hoofrol van Errol Philander in Statements After an Arrest Under the Immorality Act met Liezl de Kock (Piet se Optelgoed, Crazy in Love, Pictures of You, African Gothic) wat Frieda Joubert speel. Fugard se stuk wat in 1972 geskryf is, speel af in die apartheidsjare waar verhoudings oor die kleurgrens heen as kriminele oortredings beskou was.
Die stuk word bestempel as ’n boeiende en hartroerende liefdesverhaal oor twee mense wat letterlik en figuurlik hul diepste wese ontbloot en hunker na vryheid. Dit beloof om een van die produksies vanjaar te wees waaroor mense gaan praat.
“Hierdie sal die eerste keer wees dat ek professioneel ’n Fugard-stuk aanpak,” het Marlo gister aan Die Hoorn gesê. “Ek is verskriklik bang maar geweldig opgewonde oor Statements, reeds omdat dit steeds so ’n relevante en universele tema bevat. Die storie beeld ’n oomblik uit in twee mense se lewens wat verlief is op mekaar, maar mekaar in die geheim ontmoet omdat die destydse ontugwet dit verbied het.
“Dit is ’n uitdagende rol om in te klim, fisiek en emosioneel. Ek en Liezl asook die twee karakters wat ons vertolk, het niks om agter weg te kruip nie. Ja, nie eens kostuums nie, angswekkend vir enige akteur. Dit is egter ook vir my lekker om ’n lewende legende se werk te vier tesame met die KKNK en die demokrasie se 25ste bestaansjaar!”
• Statements is daagliks tydens van 21 tot 26 Maart om 15:00 by die Gimsaal op die planke. Ouderdomsperk van 16 jaar weens naaktheid. Kaartjies: R135 by Computicket of Shoprite/Checkers en House & Home. R150 by die deur.