Gaan ons ooit ons grond terugkry, vra Bloupunters

Vroue wat almal op Bloupunt grootgeword het en saam met hul families hul huise verloor het toe hulle in 1974 agterop vragmotors gelaai en na Dysselsdorp geneem is waar hulle voortaan sou moes woon. Voor van links is Katie Pêrel, Christina Avontuur, Maria Baartman en Sophia Daniels. Agter van links staan Clarina Maxim, Sarah Botha, Ivy Cornelius en Poem Mooney, Attequahoofman. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
AL wat hulle vra, is dat hulle vergoed word vir die grond waarvandaan hulle in 1974 onder dwang verskuif is, sê Sarah Botha wat by ’n kleuterskool op Dysselsdorp werk,
“Ons wag nou al hoe lank vir ons grondeisvergoeding of ten minste dat ons kan teruggaan na Bloupunt toe waar ons gebly het.

“Ek was 12 jaar toe ons van Bloupunt na Dysselsdorp verskuif is. En ek sê gereeld vir my kollegas daar by die kleuterskooltjie: Ek het niks teen julle nie, maar ek kan net nie vasgroei in Dysseldorp nie, want ek is in Bloupunt gebore.”

Botha en ses ander vroue van Dysselsdorp het die laaste weke gereeld met Die Hoorn gepraat oor hul hartseer, moedeloosheid, woede en ontsteltenis oor die eiendom wat hulle en hul ouers in 1974 verloor het toe hulle as gevolg van die Groepsgebiedewet uit hul huise gedwing, agterop vragmotors gelaai en na Dysselsdorp geneem is waar hulle voortaan sou moes woon. Hulle ouers het almal titelaktes vir hul eiendom gehad, vertel hulle.

Dinsdag op Erfenisdag het van die vroue saam met ander Dysselsdorpers in die verlate veld van Bloupunt vergader. Waar daar eens huise en men­se was, is nou net veld en reuse-sandhope waar grond uitgegrawe word vir die padbouprojek tus­sen De Rust en Oudtshoorn.

Vir nog een van die vroue, Ivy Cornelius, bly die groot vraag hoekom die woorde van die minister wat in 2000 met grond­eise belas was, Thoko Didiza, dat die mense se grond aan hulle terug­gegee gaan word, nooit gerealiseer het nie.

Vuyani Nkasayi, adjunk-direkteur: kommunika­sie-ondersteuningsdienste van die Departement Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, sê die kantoor van die streeksgrondeise­kommissaris is tans besig met die verifikasie van die Dysselsdorp-eis sodat opgeloopte rente betaal kan word.

“Primêre eisers is sedert Augustus 2017 versoek om stambome op te dateer en nuwe gesertifiseerde dokumente in te dien.”

Hy sê die kantoorpersoneel besoek Dysselsdorp gereeld om dokumente te gaan haal en dat die proses teen 31 Maart 2020 afgehandel behoort te wees.

Onder die redes vir die vertraging van die eise, tel stambome wat deur eisers ingedien is wat mekaar weerspreek, eisers wat party familielede nie wil erken nie, die onlangse dood van beguns­tigdes, eisers wie se eienaarskap nie by die akte­kan­toor bevestig kan word nie, ei­sers wat nie vol­doende agtergrondinligting kan verskaf vir die verwerking van hul eise nie en uitstaande identiteitsdokumente of dokumente wat nie gewaarmerk is of van swak kwaliteit is.

Ten opsigte van eienaarskap van die grond pas die departement tans die titelaktes aan van mense wat grond verloor het. Tans is die departement besig met ’n proses om ’n kommissaris aan te wys om die kwessie rondom die aanpassing van uitstaande titelaktes te finaliseer.”

• Nkasayi het die volgende agtergrondinligting oor die Dysselsdorp-eise verskaf:
Die skikkingsooreenkoms vir die Dyselsdorp-gemeenskapseis – vir eisers wat eienaarskap verloor het, of huur-, landbou-, weiding- en water­- regte – is op 17 Junie 2000 onderteken. Die ge­meenskap sluit die inwoners van Bloupunt, maar ook Waaikraal, Ou Dysselsdorp, Bokkraal en Var­kieskloof in.

Die gemeenskapseis bestaan uit 760 voormalige huurders, 140 voormalige eienaars en behels die “verkryging en restourasie van grond en ontwikkeling”. Die oorspronklike ooreenkoms het geen voorsiening gemaal vir finansiële vergoeding nie.

In 2004 het Didiza op versoek van die gemeenskap ingegryp toe van die eisers finansiële vergoe­ding gevra het. Daar is oor­een­gekom dat die oor­­spronklike ontwikkelings­voorwaardes van die oor­eenkoms nagekom moet word, maar ook voorsie­ning gemaak word vir ’n gedeeltelike kon­tantuit­­- betaling aan diegene wat finansiële ver­goeding voor die ondertekening van die ooreenkoms gevra het.

In 2010 is die nuwe minister, Gugile Nkwinti, by die loodsing van ’n lande­like ontwikkelingsprogram (CRDP) in Dysselsdorp, ingelig oor die twee- ­ledige aard van die ooreenkoms en het hy aangedui dat be­guns­tigdes finansieel vergoed sal word in plaas van die skikking en dat titelaktes aangepas moet word.

Daar is daarna begin met betalingsprosesse terwyl die verifikasie nog nie volledig was nie. Die be­taling is tydelik gestaak omdat besef is dat die eerste betalings “nie gehalte-resultate” gelewer het nie”.

• Volgende week vertel van die vroue meer oor die opstande in die vroeë 1970’s in Bloupunt nadat inwoners verneem het dat hulle gedwing gaan word om te verskuif.