Vermeende skaapdiewe hul buit kwyt

Deur Angelique Erasmus
TWEE vermeende skaapdiewe is hul smaaklike buit kwyt, nadat die Oudtshoorn Polisie hulle Saterdag in die dorp vasgetrek het met ’n skaap agterin die bakkie.

Die skaap is in die besit van ’n 65-jarige man van Kuilsrivier wat die naweek op Oudtshoorn kom kuier het, en ’n 24-jarige man van Oudts­hoorn se besit gevind.

Die skaap, wat in Matjiesrivier gesteel is, is nadat dit deur die polisie gekonfiskeer is, met haar lam verenig.

Die twee mans verskyn Vrydag in die Oudts­hoorn Landdroshof.

Volgens ao Nick Cremer van Oudtshoorn Polisie se veediefstaleenheid word ’n klag van veediefstal teen die twee mans ondersoek.

Daar is ook tydens die klopjag op die voertuig beslag gelê, omdat dit moontlik deur die staat verbeurd verklaar kan word as bevind word dit was deel van ’n misdaad.