Famsa Karoo verkla die munisipaliteit

• Klag oor ‘kwesbare kinders’ by Menseregtekommissie

Deur Schalk le Roux
FAMSA KAROO het ’n klag by die Suid-Afri­kaanse Menseregtekommissie ingedien teen die Oudtshoorn Munisipaliteit en munisipale amp­te­nare dat hulle nie hul grondwetlike verant­woordelik­he­de nakom teenoor “kwesbare kinders” en “kinders wat voorheen beskou is as kinders op die straat” nie.

Franzu Badenhorst, direkteur van Famsa Karoo, het die klag vroeg Maart namens Famsa ingedien. In die geskrewe klag word spesifiek verwys na die St Francis Drop In-sentrum vir kwesbare kinders wat deur Famsa bedryf word. Die sentrum word sedert Januarie 2015 in die Centre of Hope-gebou te Jonesstraat 2B, Oudtshoorn, gehuisves. Die gebou behoort aan die munisipaliteit.

Famsa Karoo het ’n gedeelte van die gebou met die hulp van ’n plaaslike sakeonderneming opge­knap en ingerig om na die betrokke kinders om te sien. Verbeteringe aan ’n gedeelte van die gebou is aangebring om die hoë voorkoms van inbrake en vandalisme by die gebou te verhinder.
Volgens die klag wat ingedien is, het verskeie inbrake egter steeds voorgekom ondanks veilig­heids­wagte op die perseel. Die perseel is ook oor­stroom weens swak dreinering, waterlekkasies en lek­kasies van rou riool van die aangrensende perseel.

Met elk van die gemelde voorvalle was daar aansienlike skade wat luidens die klag deur Famsa by die munisipaliteit aangemeld is. In sommige ge­valle het die munisipaliteit wel gereageer ten opsigte van herstelwerk en instandhouding aan die buitekant van die gebou. In die meeste gevalle is die klagtes egter geïgnoreer.

Volgens Famsa se klag het die haglike omstan­dighede waarin die betrokke kinders versorg is, hul menslikheid en waardigheid aangetas.

Intussen het die munisipaliteit op 28 Februarie vanjaar besluit om die Centre of Hope vir ’n ander projek beskikbaar te stel sonder om Famsa Karoo te konsulteer, lui die klag.

In die klag word ook gemeld dat die pro­bleme mondelings en skriftelik herhaaldelik onder die munisipalititeit se aandag gebring is, en ook onder die aandag van die Wes-Kaapse departemente van Maatskaplike Ontwikkeling en Plaaslike Bestuur, die Oudtshoorn Kinderbeskermingsforum, die Oudtshoorn Besigheidskamer en die DA.

Volgens die klag was daar wel samesprekinge met munisipale rolspelers, maar het dit tot geen betekenisvolle of daadwerklike reaksie gelei wat die situasie by die sorgsentrum verbeter het nie.

In die klag vra Famsa onder meer dat:
• Die munisipaliteit sy wetlike verpligtinge ten opsigte van die betrokke kinders nakom;
• Die munisipaliteit Famsa bystaan om ’n voldoende alternatief vir die Centre of Hope-gebou te vind in die beste belang van die betrokke kinders;
• Die munisipaliteit as beskermheer optree vir die regte van veral kwesbare kinders op Oudts­hoorn; en
• Die munisipaliteit gesamentlik verantwoordelikheid aanvaar vir die kinders se reg tot mens­waa­digheid en reg op ’n omgewing wat op geen ma­nier nadelig is vir hul gesondheid en welsyn nie.