Erfenisdagtoer eindig op Oudtshoorn

Mike en Susan Alexander by hul 1958 Plymouth Savoy waarmee hulle aan die Erfenistoer gaan deelneem. Foto verskaf.

OUDTSHOORNIETE kan Saterdag (25 September) uitsien na ’n reeks unieke en klassieke voertuie in ons dorp se strate wanneer ’n Erfenisdagtoer in die Klein Karoo-dorp eindig.

Erfenisdag en Toerismemaand is net twee van vele uitstekende redes waar-om lede van die Suid-Kaap Oumotor-klub (SKOMK) met die ondersteuning van Recollection Rides van 23 tot 26 September die pad aandurf.

Die toergroep van 46 deelnemers en 26 uitsonderlike motors – wat ten minste een “jongeling” insluit as rugsteunvoertuig – het vanoggend (23 September) vanaf Halfway Toyota in George vertrek nadat die ondersoekproses afgehandel is om die motors se padwaardigheid te verseker.

Die toer se organiseerder, Pierre Olivier van die SKOMK, sê dat elkeen van die “klassieke dames” in vanjaar se besonderse stoet, lank reeds die kuns van luilekker ry vervolmaak het.

“Daar word nie van bestuurders verwag om ’n konvooi te handhaaf nie, sodat hulle na hartelus ompaaie kan verken,” sê Olivier. Olivier sê hy behoort te weet wat sy mede-motorliefhebbers na aan die hart lê, aangesien vanjaar reeds sy negende Erfenistoer-avontuur is.

Die rugsteunvoertuig sal toesien dat niemand êrens langs die pad agtergelaat word met ’n meganiese opdraande nie. Dis juis die deeglike ondersoek-proses voor die wegtrekslag wat ’n wesentlike bydrae maak om hierdie risiko te verminder. Verder verseker dit dat daar aan al die vereistes van die Southern African Veteran and Vintage Association (SAVVA) voldoen word.

Vorige jare se ­toergroepe het die uitgestrekte Karoo binnegevaar en oornag op Graaff-Reinet – tuiste van die hoofborg Re-­Collection Rides se museum. Vanjaar se deelnemers gaan egter aanvanklik suidweswaarts ry voordat hulle van die N2 gaan wegdraai.

Ná die wegtrek op George is vandag se eerste stop by Delish op Heidelberg. Volgende op die roete is Swellendam voordat die toergroep kuswaarts draai op pad na die kultuurryke stranddorp Arniston waar hulle gaan oornag.

Môre, op Erfenisdag (24 September), word die dag gevier met ’n roete wat Baardskeerdersbos, Gansbaai, Caledon, Franschhoek en Villiersdorp insluit, met Worcester die dag se eindbestemming.

Hierdie stuk pad sluit skilderagtige uitsigte in aangesien die Overberg se administratiewe setel slegs bereik kan word deur van die Wes-Kaap se mooiste bergpasse aan te durf.

Verdere opwinding beplan vir Erfenisdag is ’n besoek aan die prentjie-mooi Franschhoek se outomobielmu- seum, waar ’n beduidende versameling ou en antieke voertuie en motorfietse besigtig kan word.

Saterdag vertrek die Erfenistoer vanuit Worcester en ry deur Montagu, Barrydale, Ladismith en Calitzdorp tot op Oudtshoorn waar ’n spogonthaal en prysuitdeling gaan plaasvind.

Die toergroep keer die volgende oggend (Sondag) via De Rust en Uniondale terug na George.