‘Enigeen kan virus kry’

SY kon dit nie glo dat party mense haar behandel het asof sy melaats was nadat sy die Covid-19-virus aangesteek het nie, sê die Oudtshoorniet Dedré Rupping (31).

Dedré het Maandag weer na haar werk by die Cango Wildlife Ranch teruggekeer nadat sy twee weke in isolasie was.

Sy sê dit is vir haar belangrik om oor haar ervaring te praat om mense so in te lig en te help om die stigma rondom Covid-19 te breek.

“Ek is nie skaam om te sê dat ek die virus opgedoen het nie. Ek dink ek was Oudtshoorn se 11de geval, as ek so na die statistiek kyk,” sê sy tydens ’n gesprek met Die Hoorn.

“Ek is nog dieselfde mens as voordat ek die virus aangesteek het, soos mense dieselfde bly as hulle ’n verkoue of enige griepvirus aansteek.
“Ek het alles reg gedoen om nie die virus aan te steek nie – my hande gewas, my masker gedra. As ek na sosiale media kyk, is daar sowaar mense wat dink almal wat die virus aansteek, soek daarvoor…”

Dedré sê sy het geen idee waar en hoe sy die virus opgedoen het nie en kon dit nie glo toe sy drie weke gelede hoor sy is positief getoets nie.

“Ek was regtig geskok toe ek hoor dat ek die virus aangesteek het.

“By my werk dra almal maskers en is almal versigtig. Ek was ook nêrens in aanraking met iemand wat ek weet die virus het nie. Ek het dit dalk aangesteek by iemand wat asimptomaties was. Verder was ek net ’n paar keer na ’n supermark toe.”

Sy vertel sy was nooit eintlik siek nie, en het haar slegs laat toets omdat dr Jannie du Toit haar aanbeveel het om dit te doen.

“Ek is daarvoor baie dankbaar teenoor hom. Hy is ’n baie goeie dokter.

“Ek het ’n effense hoofpyn gehad en was ’n bietjie naar, maar kry dikwels ligte hoofpyne en het niks vermoed nie. My ma het my koors gemeet en dit was 37,1 grade C.”

Sy en haar ma het hulle na die uitslag op ’n plaas afgesonder waar Dedré in isolasie was.

Sy het nie sieker geword nie en sê sy het behalwe twee hoofpynpille die hele tyd geen medikasie nodig gehad nie.

Vir haar werkgewer en kollegas het sy net lof.

“Hulle het my regtig onderskraag en kontak my daagliks. Hulle is van die min mense wat my nooit veroordeel het nadat ek die virus aangesteek het nie.”

• Talle mense het Dedré op Die Hoorn se Facebook- en webblad bedank dat sy praat en mense inlig oor haar pad met Covid-19. Saam kan ons die stigma rondom die virus breek en mekaar help en so beter ondersteun. (Deur Liesel le Roux)