DRINGENDE operasies op die bene van kapt Thinus Eloff (56) van Oudtshoorn wat op Saterdag- aand 6 Junie 2020 by ’n padblokkade raakgery is, kon nog nie plaasvind nie omdat hy verlede week longontsteking opgedoen het.
“Dit is nogal kritiek dat die operasies so gou as moontlik uitgevoer moet word om veral sy linkerbeen wat baie sleg seergekry het, te red, maar dit kan nie gebeur voordat hy van die longontsteking herstel het nie,” sê sy vrou, Beadri.
Thinus, wat verbonde is aan die Oudtshoorn Honde-eenheid, is erns-tig beseer terwyl hy by ’n padblokkade naby Willowmore gewerk het.
Hy was saam met ander lede van die Honde-eenheid by ’n padblokkade op die N9 toe ’n bakkie hom getref het.
Beide sy bene is in die voorval gebreek en hy het ook baie bloed verloor.
Hy is aanvanklik in die hoësorgeenheid in Willowmore opgeneem, maar oorgeplaas na die George Mediclinic waar hy noodoperasies op sy bene ondergaan het.
Volgens Beadri het hy verlede week ’n operasie ondergaan waar ’n stukkie van ’n derm verwyder is, en sou die beenoperasies volgende plaasgevind het.
Sy sê dit is baie swaar dat sy as gevolg van Covid-19-regulasies by die hospitaal nog nooit haar beseerde man kon besoek het nie.
Beadri het tevore gevra dat mense vir haar man moet bid.
“Bly asb bid vir hom… God is almagtig,” het sy sowat ’n week gelede op Facebook geskryf.
Thinus is ’n uitstekende sportman wat al meer as een keer die enkelspel-klubkampioen van die Oudtshoorn Tennisklub was, en is ook ’n geesdriftige fietsryer.
Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is die 69-jarige bestuurder van die bakkie wat Eloff getref het, op die toneel in hegtenis geneem en onder polisiebewaking na die Wil- lowmore Polisiekantoor geneem nadat hy van pyne in die bors gekla het.
“Voorlopig staar die bestuurder klagtes van roekelose en nalatige bestuur in die gesig,” het Pojie gesê. (Deur Liesel le Roux)