Saretha Conrade (links), Dalia Wilck (middel) en Lezelma Pretorius van die Oudtshoorn Rotariërs besig om die Jars of Hope met droë sopbestanddele te vul.
Alphen aan den Rijn, Oudtshoorn se tweelingstad in Nederland, het ’n skenking van altesame digby R60 000 aan die Oudtshoorn Rotariërklub toevertrou om met die klub se voedselnoodprojek* te help.
Die Rotariërs het verlede Woensdag (10 Junie) 75 kospakkies vir die inwoners van Kliplokasie naby Volmoed gaan aflewer (foto heelbo).
Volgens Dalia Wilck, projekleier van die Oudtshoorn Rotariërs, het die klub ook reeds kospakkies met die hulp van weldoeners aan mense wat in die omgewing van die Welgelukpad, Zeekoegatpad en Volmoedpad woon afgelewer.
Die Rotariërs het ook reeds kospakkies geskenk aan kerke om dit te versprei waar behoefte bestaan asook aan werknemers van restaurante en haarkappers wat besonder swaar deur die inperkingsregulasies getref word.
Benewens kospakkies gaan die Rotariërs ook nou die skenking aanwend om bestaande sopkombuise soos in Blomnek by De Rust en Black Joint in Bridgton te ondersteun deur bestanddele daarvoor te skenk.
“Ons gaan ook vandag (Donderdag) ’n sopkombuis met die hulp van die hoof van Pierewiet Crèche, Elbie Langtrey, en die ander personeel in ’n aangrensende woongebied in Volmoed aanbied,” het sy gesê.
By dié sopkombuis gaan die Rotariërs ook ’n aantal gesigsmaskers en Jars of Hope onder inwoners uitdeel. Die Jars of Hope bevat droë bestanddele soos rys, sopmengsel, lensies en aftrekselblokkies waarmee twee liter sop gemaak kan word.
- Rotary Hunger Relief Project.
