MEER as 50 eerstejaars wat met beide eenjaar- en driejaarverpleegkursusse vanjaar begin tesame met hul ouers is Maandag by die Emmanuel Verpleegkollege op Oudtshoorn deur ’n passievolle suster Maria Pienaar, hoof van die kollege verwelkom.
Met haar verwelkoming het Pienaar die eerstejaars gelukgewens met hul besluit om “by die geledere van die edelste en lonende beroep aan te sluit. ’n Beroep wat gebou is op onwrikbare toewyding, persoonlike opoffering en allesomvattende empatie van soveel verpleegsters wat hulleself alreeds bekwaam het. Hierdie beroep is uiters lonend en gevul met onbeperkte geleenthede,” het sy gesê. Pienaar het die ouers van die eerstejaars verseker dat hul kinders in goeie hande is, en dat hulle die beste opleiding hier sal ontvang. “Moenie kommer nie, ons gaan mooi na jul kinders kyk hier, en hulle die beste toekoms verseker.”
Buiten die verwelkoming het Pienaar haar toewyding daartoe om die kollege deel te maak van die gemeenskap beklemtoon. “Ons gaan bande bou met almal in die gemeenskap. Van die polisie tot die weermag, die brandweer tot die munisipaliteit en ook die media. Julle het gesien die burgemeester, Chris Macpherson was ook vanoggend hier. Ons gaan sport speel, toutrek, ’n koor begin en die beste verpleegkollege moontlik wees,” het sy vir ’n juigende groep eerstejaars gesê, wat almal net so opgewonde oor die skool se toekoms soos Pienaar self geklink het. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Emmanuel verwelkom meer as 50 eerstejaars
Regs: Eerstejaars wat vanjaar hul opleiding by Emmanuel Verpleegkollege op Oudtshoorn begin en hul ouers tydens ’n verwelkomingsgeleentheid by die skool. Suster Maria Pienaar, hoof van die verpleegkollege, het haar passie vir die kollege en die toekoms van die kollege gedeel.
Foto’s: Stefan Skapie Goosen