‘Ek het na elke saak geluister’

Deur Angelique Erasmus
’N GEBORE Oudtshoorniet in murg en been en bekende streekhoflanddros van die dorp, JC Nortjé (68) – of Neels soos hy bekend staan – is vanaf vandag (1 Augustus 2019) amptelik ’n afgetredene.

Nortjé wat in Oudtshoorn gematrikuleer het, het op 1 Desember 1969 – die dag nadat hy sy laaste matriekvraestel geskryf het – by die Departement van Justisie op Oudtshoorn begin werk.

Hy is by dié kantoor, destyds op die hoek van Hoog- en Kerkstraat, as administratiewe klerk aangestel en het daarna by verskeie kantore in onder meer Jansenville, Ladismith en Somerset-Wes gewerk.

“Vandaar is ek in 1979 as ’n aflospersoneellid na Pretoria verplaas,” vertel hy.

Vir die volgende ses jaar het hy as streekhofaanklaer gewerk en was hy ook die beheeraanklaer van die streekhof.

Hy is in 1988 na Vryburg oorgeplaas waar hy tot 1994 as landdros gewerk het. In 1994 is hy terug na sy geboortedorp verplaas, as streek­hof­landdros in Streekhof 1.

“Ek het na elke saak geluister, en nie sommer vooraf besluit of iemand skuldig is of nie. Ek het altyd objektief oor elke saak gebly en eers na al die feite geluister en gekyk voor ’n beslissing,” sê Nortjé.

Hy meen enige persoon wat ’n regsberoep as ’n loopbaan kies, het ’n groot verantwoordelikheid, en dat sake nie sommer ligtelik opgeneem kan word nie.

“Beslissings het ’n invloed op elke persoon vir die res van hul lewe, die wat in die beskuldigdebank sit, sowel as die slagoffers en almal se families.”

Nortjé sê hy sal steeds in die hofgange van Oudtshoorn, Mosselbaai en Beaufort-Wes te sien wees, waar hy sake sal afhandel waarmee hy nog besig is.

En sy toekomsplanne?
“Ek oorweeg dit om as advokaat in die omge­wing te praktiseer,” sê hy.

Nortje is egter ook van plan om ’n bietjie te gaan toer, en gaan ook by sy seun in Nieu-Seeland kuier.

Op ’n vraag oor wat hy die meeste gaan mis, is die antwoord vir hom maklik.

“My kollegas,” antwoord hy.

“Ons het deurentyd goed oor die weg gekom en ek wil hulle ook graag bedank vir die uitmuntende vlak van professio­naliteit waarmee hulle hul werk gedoen het.”