DA-hooggeplaastes Vrydag op Oudtshoorn

Deur Liesel le Roux
DA-HOOGGEPLAASTES sal Vry­dag met die plaaslike DA-raadslede op Oudts­hoorn vergader en daarna met die pers kan praat, sê Eleanor Bouwe-Spies, die Wes-Kaapse parlementslid wat verantwoordelik is vir die dorpe in die Suid-Kaap.

Bouwe-Spies het gereageer op navrae van Die Hoorn oor onder meer bewerings van spanning en me-ningsverskille tussen plaaslike DA-raadslede en hul onlangse besluit om die munisipale bestuurder, Allen Paulse, voorlopig te skors.

Ses van die veertien DA-raadslede van Oudtshoorn het hulle na wat ver-neem word verlede week skriftelik in ’n brief aan die Wes-Kaapse regering ge­distansieer van ’n poging in die raad om Paulse te skors en van enige regskoste wat uit dié poging mag spruit.

Die Hoorn kon nie vandeesweek daarin slaag om telefonies of per WhatsApp reaksie van James Selfe, voorsitter van die DA se Federale Raad, oor die situasie op Oudtshoorn te verkry nie.

Selfe het in April vanjaar aan Die Hoorn gesê die DA se federale regs­kommissie het ’n versoek ontvang van Anton Bredell as DA-leier in die Wes-Kaap om bewerings van twee­spalt binne die DA op Oudts­hoorn te ondersoek.

Intussen het verskeie ontevrede inwoners vandeesweek Die Hoorn ge­nader oor dié besluit oor Paulse, wat deur hulle as ’n bekwame en eerlike munisipale bestuurder bestempel is.

Van die inwoners het (soos ook die grootste opposisieparty in die raad, die ANC) dié voorlopige skorsing van Paulse toegeskryf aan spanning tussen die dorp se burgemeester, Colan Sylvester, en Paulse.

Sylvester het op 28 Junie ’n verslag oor beweerde wangedrag deur Paulse by die raad ingedien na aanleiding waarvan die voorlopige skor­singsbesluit geneem is.