100 000 bome vir Oudtshoorn

Deur Liesel le Roux
DIE Oudtshoorn Besigheidskamer het ’n projek geloods om 100000 bome oor die volgende ses jaar op Oudts­hoorn te plant.

“Dit gaan nie net die dorp verfraai nie, dit gaan ook die dorp koeler maak,” sê Jaco Vorster, ondervoorsitter van die Besigheidskamer

Vorster sê dit is ’n boomplantprojek soos wat nog nooit vantevore in Oudtshoorn gesien is nie.

“Dit sal die voorkoms van Oudts­hoorn verander en die beeld van ons dorp positief beïnvloed.

“Dit is ’n belegging in ons omge­wing en tot voordeel van ons eko­stelsel. En as ons genoeg bome plant, sal dit ons dorp afkoel.”

Vorster sê hulle beskou hierdie as ’n gemeenskapsprojek waarby inwo­ners, skole en besighede kan saam-werk om die bome te onderhou.

“Dit is ’n manier om te wys ons onderskryf die Ek is Oudtshoorn-logo deur as inwoners saam te werk.

Daar is ’n uitdrukking wat lui: Die beste tyd om ’n boom te plant, was 20 jaar gelede; die tweede beste tyd is nou. Bome is belangrik vir ons oorle­wing en volhoubaarheid.”

Daar word beoog om eerstens ’n Boom van Eenheid buite die dorp op die weermagterrein langs die Calitzdorp-pad te plant. Die boom sal die bekende skewe boom buite die dorp wat onlangs deur die Wes-Kaapse Departement van Vervoer uitgehaal is, vervang.

Die volgende stap is om 600 bome voor Mei 2020 te plant, en dan om ’n projek te loods waartydens 20000 per jaar bome oor die daaropvolgen-de vyf jaar te plant met inwoners wat daarna sal omsien.

Vorster sê daar is reeds groot belangstelling by inwoners, skole en besighede om betrokke te raak by die plant en versorging van bome.

So ’n projek sal inwoners ook dwing om kreatief te dink oor water om die bome mee nat te lei, sê hy.

Duisende liter water gaan daagliks op die dorp verlore – soos stortwater wat wegloop terwyl mense wag dat dit warm word of honderde liter water wat uit lugversorgers wegloop.

• Enigeen wat die boomplantprojek finansieel wil steun, kan ’n inbetaling doen in die volgende rekening: Oudtshoorn Business Chamber: Absa, Takkode 632005, rekeningnommer 405 751 4616; verwysing: Tree of Unity.