Die Amerikaanse kruisboogjagter, Jamie Gibson, by die buffelbul wat hy verlede Donderdagmiddag gekwes het.

Henko Schoeman wat beseer is toe die buffelbul hom met die horings geskep het.
Deur Angelique Erasmus
DIE voorval waarin ’n Amerikaanse kruisboogjagter, Jamie Gibson, ’n buffelbul verlede Woensdag (24 Julie) met ’n kruisboog op die plaas Buffelsdrift net noord van Oudtshoorn in die maag gekwes het, het uiteenlopende *reaksie op Die Hoorn se Facebookblad uitgelok.
Henko Schoeman (23), ’n student van Oudtshoorn, is die volgende oggend deur die gekweste buffel met die horings geskep en gekarnuffel terwyl hy saam met die grootwildberoepsjagter Danie van Jaarsveld, wat die jagtog gereël het, na die buffel gaan soek het.
Aangesien die buffel die middag gekwes is toe dit al skemer begin raak het, het die jaggeselskap besluit om die dier eers die volgende oggend te gaan soek.
Schoeman en Van Jaarsveld het die buffel gevind waar hy tussen doringbosse gelê het. Terwyl hulle gekyk het of die buffel nog lewe, het ’n hond wat saam met hulle was, begin blaf en het die buffel opgespring en hulle bestorm.
Schoeman en Van Jaarsveld het altesame vier skote op die aanstormende buffel geskiet waarvan drie hom in die longe getref het en een teen die horing.
Die verwoede buffel het egter steeds bly storm. Schoeman en Van Jaarsveld het toe in verskillende rigtings gespat. Die buffel is agter Schoeman aan en het hom met sy horings geskep en in die lug opgegooi.
Daarna het die buffel hom onder ’n doringbos in gestoot waar hy hom met die horings vasgedruk het.
Terwyl die buffel nog besig was om Schoeman te karnuffel, het Van Jaarsveld die buffel in die ruggraat geskiet waarna Schoeman weggekom het. Van Jaarsveld het die buffel daarna nog ’n keer geskiet waarna die buffel gevrek het. Die buffel het sowat 800 kg geweeg.
Schoeman is ná die aanval met onder meer ’n ontwrigte skouer en kneus-plekke vir waarneming in die Mediclinic Klein Karoo opgeneem, maar is die volgende oggend ontslaan. Hy het aan Die Hoorn gesê hy is baie dankbaar dat hy so lig daarvan afgekom het.
Piet Botha Schoeman, eienaar van Buffelsdrift, het vandeesweek gesê hy is ook baie dankbaar dat Henko so lig daarvan afgekom het.
Gibson, die Amerikaanse boogjagter, het ná die jagtog ’n verklaring oor die voorval uitgereik.
Hy sê die oggend nadat hy die buffel die vorige middag gekwes het, het Van Jaarsveld, wat al 25 jaar lank ’n grootwildberoepsjagter is, sy 375-geweer, wat hy vir bystand gebruik, saamgevat. Schoeman het ’n 30-06 met ’n teleskoop (Burris XT 2) wat geskik is vir langafstandskiet saamgevat vir indien die buffel weghardloop en oor ’n lang afstand geskiet moes word.
Hy vertel dan wat gebeur het.
“Dit was ’n vreesaanjaende ervaring – dit wys hoe vinnig iets kan skeefloop. Maar ek haal my hoed af vir Danie en Henko. Hulle was dapper en baie professioneel.
“Ons is baie dankbaar dat niemand ernstig beseer is nie en dat Henko so lig daarvan afgekom het.
“Ons het ’n ongelooflike jagtog gehad met uitsonderlike trofees en ons beplan reeds ons volgende reis.”
* Van die kommentare op Die Hoorn se Facebookblad lui:
Pieter du Plessis skryf: “Dankbaar almal is veilig.”
Cornelia Theron Olivier skryf: “My hart kry seer vir so ’n arme dier.”
Christna Nortier skryf: “Dit is ’n skande om die dier te wond en te los oornag. Gaan jag julle trofees in julle eie land.”
Eugene Lombard skryf onder meer: “Moenie ’n buffel met ’n boog jag nie.
“Om die dier oornag te los met daai pyn is barbaars!”
Bennie Pearson reageer: “Natuurlik kan jy ’n buffel met ’n pyl dood! Met die regte skootplasing deur die hart is dit byna pynloos. As iets op ’n jag verkeerd loop, hanteer jy dit so goed as moontlik. Elke situasie is anders.”
Nicolene Raath: “Ek wonder of al-mal wat so comment oor die arme dier wat geskiet word, vegetaries is. Waar dink hulle kom vleis wat hulle so eet vandaan? Wag hulle tot die dier rustig in sy slaap doodgaan voor hulle dit slaghuis toe vat?”
John Emmerich: “Hoop nie die mense wat so kommentaar lewer eet vleis, biltong of droëwors nie.”
Pierre van Rooy: Mense wat vleis en biltong eet, martel nie noodwendig hul kos dood nie. Hulle probeer ook nie hul ego streel deur ’n reusedier met ’n boog dood te skiet en die ‘trofee’ saam te neem om te gaan spog by soortgelyke mense nie. Ek het absoluut GEEN probleem met etiese jag nie, inteendeel ek ondersteun dit. Wat hierdie mense mee besig is, is oneties.”
Erick Visser: “Please stop the nonsense. In a way all of our hunters are ‘Trophy Hunters’. Because we all try to shoot the biggest ram or bull if we get the chance, to get our money in meat. That meat feeds our famillies and even our workers. So please stop this childishness and leave our hun-ters alone. Cause as long as we can feed our people by hunting, we will hunt.”