Drywende vleilande kan groot voordele inhou

By die Dysselsdorp Rioolaanleg word tans baanbrekerswerk gedoen deur Trapsuutjies Projekte en ’n MSc-student, Philippa Davis, om rioolwater te suiwer met die hulp van drywende “eilande”, beplant met papkuil. Die papkuil onttrek ongewenste mikro­bes en nutriënte uit die rioolwater. ’n Byvoordeel is dat die natuur ook begin reageer op die verbeterde waterkwaliteit met watervoëls wat daar begin broei het en waterskilpaaie wat ook gereeld daar opgemerk word! Foto: Stefan Skapie Goosen

’N BAANBREKERSPROJEK wat tans by die Dysselsdorp Rioolaanleg getoets word, plaas die verbetering van uitvloei-waterkwaliteit in die kollig, en kan verrykende voordele tot gevolg hê vir rioolplase regoor Suid-Afrika.

Trapsuutjies Projekte, ’n nie-winsgewende “groen” organisasie op Oudtshoorn, het die projek geloods saam met ’n MSc-student, Philippa Davis, wie se tesis op dié projek berus.

Die projek behels die plasing van kunsmatige drywende vleilande in die kontakbane van die rioolaanleg om, volgens Davis, ongewenste mikro­bes en nutriënte uit die rioolwater te onttrek. Die kontakbane is die laaste proses waardeur die rioolwater gaan voordat dit weer in die natuurlike waterstelsel inloop.

Davis sê die doel hiervan is om die water wat uitvloei sodanig te suiwer dat dit veilig is om weer in natuurlike waterstelsels vrygelaat te word.

“Dit kan daarna dan ook vir landboudoeleindes gebruik word, siende dat die gevaarlike elemente verwyder is.”

Volgens Davis is die hoofdoel van die projek eintlik om die chlorinering van water uit te skakel of drasties te verminder.

“Dit op sigself kan vir ’n munisipaliteit groot besparings meebring.

“Dit skep ook die geleentheid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling en om iets op die been te bring wat kan lei tot werkskepping en eko­nomiese onafhanklikheid.”

Die projek wil nie net verseker dat skoner water in die natuurlike waterstelsel inloop en ook ekonomiese ontwikkeling aanmoedig nie, maar poog ook om ’n moontlike verbetering in die hantering van die rioolhanteringsproses te wees.

Davis sê sy en die Trapsuutjies-span is baie opgewonde oor die positiewe resultate wat hulle reeds vanjaar gesien het.

“Ons het al selfs watervoëls hier sien broei, en kry gereeld waterskilpaaie hier rond. Dit is beslis ’n teken dat die natuur self besig is om te reageer op die verskil in waterkwaliteit.” (Deur Stefan Skapie Goosen)