63-jarige in rolstoel sterf in brand

’N 63-JARIGE vrou van Zoar is Sondagmiddag oorlede nadat sy nie gered kon word uit haar familie se brandende huis nie.

Dié informele woning in die agterplaas van ’n huis in Vierde Laan, Zoar het tot op die grond afgebrand.

Na verneem word was Maria Pretorius in die huis toe dit aan die brand geslaan het. Inwoners van die omgewing het probeer help terwyl hulle moes wag vir die Ladismith Brandweer om te kom help.

Ladismith is sowat 20 km vanaf Zoar geleë.

Inwoners vertel hulle het tevergeefs probeer om Pretorius te red, en moes voor die vlammesee swig en magteloos toegekyk hoe die huis afbrand nog voordat die brandweer op die toneel was. Pretorius se verkoolde liggaam is tussen die oorblyfsels van die huis uitgehaal.

Haar dogter, Hanlie Pretorius, is vir brandwonde wat sy opgedoen het in haar pogings om haar moeder te red, in die Alan Blyth Hospitaal in Ladismith behandel.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woord­voer­der van die Suid-Kaap Polisie, word geen misdryf vermoed nie en sal die oorsaak van dood tydens ’n nadoodse ondersoek bepaal word. (Deur Deon Meyer)