3de Klassieke Klein Karoo Kersfees onder die sterre

TEN spyte van Covid-19 en die grendeltyd word daar reeds hard beplan aan vanjaar se Klassieke Klein Karoo Kersfees, wat op Saterdag 12 Desember in die opelug op die granaatplaas Celebratio buite Oudtshoorn aangebied word. Dit sal die derde jaar wees wat die konsert op die plaas aangebied word en is by baie reeds ’n instelling op die Desember-kalender.

Volgens die organiseerder, Gerhard Meyer, sal aan al die Covid-19-veiligheidsmaatreëls voldoen word. Dit is weens dié rede dat slegs 500 kaart­jies beskikbaar is vir die vertoning.

“Ons het baie om voor dankbaar te wees en ek dink hierdie konsert is die ideale geleentheid om, saam met familie en vriende, die lewe en goeie gesondheid te vier,” sê Gerhard.

Vanjaar, vir die eerste keer, sal ’n koor deel uitmaak van die konsert. Die Suid-Kaap Kinderkoor (SKKK), met Jan-Erik Swart as dirigent, sal saam met Corlea Botha en Jannie Moolman gewilde Kersliedere asook van die mooiste klassieke treffers sing. Die koor en soliste word begelei deur die Stellenbosch Stadsorkes onder leiding van Paul Loeb van Zuilenberg.

Die program spog met heelwat nuwe liedjies, hoewel die goue oues nie agterweë gelaat word nie. Die gehoor kan uitsien na Sonneblom uit Betlehem, Somerkersfees, Amazing Grace, O Holy Night/Dis Kersfees en Love changes Everything.

Daar sal ook geleentheid wees vir samesang.

Die 95 lede van die SKKK verteenwoordig 13 skole uit Knysna, George, Hartenbos, Mosselbaai en Ladismith. Die koor spog met ’n rits toekennings – hulle het al ’n Kanna-prys ontvang vir Beste Musiekpro­duk­sie by die KKNK, was die wen­- ner van die ope-afdeling van die agtste Wêreldkoorspele in Letland en het reeds verskeie kere die ATKV Animato-finaal-koorkompetisie gewen.

Tydens hul mees onlangse Euro­pese konserttoer het hulle by die 64ste Muziekfestival voor die Jeugd in België die eerste prys (cum laude) behaal. Kore van 24 lande het aan die fees deelgeneem.

Klassieke Klein Karoo Kersfees 2020 begin om 19:30, maar die kos- en wyn-stalletjies is reeds van 18:00 af oop. Plaaslike restaurante soos Karooboom en Nostalgie het heerlike eetgoed op hul spyskaarte terwyl Jakkalsvlei,

Black Mountain Gin en Liquorland sal sorg vir iets te drinke. Susanne van Amber Lagoon sal ook daar wees met haar heerlike crêpes.

Kaartjies kos tussen R200 en R220 en is aanlyn beskikbaar op www. celebratio.co.za of by PostNet se kantoor op Oudtshoorn.

Die konsert word aangebied in samewerking met Die Hoorn.
Vir meer inligting kontak Gerhard Meyer by 0828027138.