Drie van Rose Valley swaar vonnisse vir moord opgelê

DRIE mans van Rose Valley op Oudtshoorn wat aan moord skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof vonnisse van 18 en 20 jaar tronkstraf opgelê.

Streeklanddros Sylvia Mandla het bevind dat Elias Kammies (28), Heinrich September (32) en Joseph Olckers (40) op 22 Maart 2019 met ’n gemeenskaplike doel opgetree het toe hulle vir Johannes Jonathan aangeval en Olckers hom met ’n mes in die long ge­steek het.

Die hof het Kammies se getuienis as onwaarskynlik verwerp, terwyl September en Olckers besluit het om nie te getuig nie terwyl hulle deur ’n ooggetuie wat ook deur Olckers met ’n mes gesteek is, op die toneel geplaas is.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof vir vonnisse van tussen 15 en 25 jaar gevra omdat die beskuldigdes geen berou toon nie. Volgens Smith waarborg die land se Grondwet die reg om lewe en kan die beskuldigdes om dié rede nie die doodstraf kry nie. Hy het toegegee dat hulle eerste oortre­ders is en byna twee jaar in aanhouding was vir afwyking van lewenslange gevangenisstraf.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers, Cindy Murray-Smith en adv Piet van Wyk, het albei toegegee dat die gemeenskap siek en sat is vir misdaad en die hof gevra om in ag te neem dat die oorledene slegs een wond toegedien is.

Die landdros het met vonnisoplegging gesê ’n pa van vyf kinders se lewe is geneem terwyl hy na ’n dag se harde werk met lekkers en aartappelskyfies vir sy kinders onderweg was huis toe. Jonathan is vermoor omdat hy nie vir die beskuldigdes geld vir dwelms wou gee nie.

Kammies en September wat nie wapens gehad het nie, is elk tot 18 jaar gevangenisstraf gevonnis, terwyl Olckers tot 20 jaar vir moord en vyf jaar vir aanranding met die doel om ernstig te beseer gevonnis is.

Die hof het gelas dat die vyf jaar vir aanranding samelopend met die 20 jaar uitgedien kan word. Al drie is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)