Polisie se wekroep aan die kerke

Bishop Pinon met kursusgangers. Foto: Deon Meyer

GESINSGEWELD en geweld teen vroue het met die afgelope tyd se drie moorde in die Ladismith-omgewing die polisie ook na die kerke laat uitreik vir hulp.

Ao Jannie Cederas, polisiewoord­voerder, sê: “Vir lt kol Pauline Kriel, sta­sie­kommissaris, is die probleem nog veel groter omdat dit baie keer binne die huis gebeur. Die kerke moet hul deure sluit en die mense by hul huise besoek. Die lig moet van die kerk na die mense se huise geneem word. Tans word Christelike beradingsklasse aangebied wat die verskil in die gemeenskap kan maak.”

Volgens Cederas, ook ’n kursusganger, kan die Christelike beradingsklasse in die Flink Sentrum, beskou word as die lig wat Jesus aan Sy dissipels gesê het die wêreld ingedra moet word.

Die klasse word onder die leiding van Bishop Zerach Pinon wat van Franse afkoms is, aangebied.

Volgens Faiza Flink, koördineerder van die klasse, wil die klasse die kerk se lede bemagtig. Klasse word in Engels aangebied, maar Bishop Pinon hou baie van Afrikaanse koortjies. Hy herinner graag die studente dat “If Christ is in it, you can like it or hate it, but you can’t stop it.” (Deur Deon Meyer)