Rolballiga: die einde is in sig

DIE Oudtshoorn Rolbalbaan se nuwe spreiligte het hul goed van hul taak gekwyt verlede Woensdag, met al 32 spanne wat aan die Rolbalklub se besigheidsliga deelneem wat op een aand kon speel.

Wedstryde is in die eerste drie rondes van die liga op Woensdae en Donderdae gespeel. In ronde vier, op 17 Maart, was dit die eerste geleentheid vir alle spanne om mekaar vierkant in die oë te kon kyk.

Met slegs twee rondes oor, gisteraand (uitslae nie beskikbaar teen druktyd) en 31 Maart, wroeg die topspanne tans om ’n gaping tussen hulle en hul teenstanders op die punteleer te skep.

In teenstryd met die vorige ronde waar vier spanne om die topposisie geveg het, is daar tans twee spanne wat gelykstaan; Wesbank Laerskool 1 en Jodi Mulder Financial Solutions – slegs geskei deur die punteverskil.

Die toptien van die vorige ronde is ook heeltemal onderstebo gegooi, en lyk nou heel anders.

Dié toptien spanne lyk nou só na die vierde ronde: Wesbank Laerskool 1, Jodi Mulder Financial Solutions, Du Plessis Motors, Helende Woord, HSCS, Timbercity, Kanni Worry, Riempie, Country Club en Volmoed Beginners. (Deur Stefan Skapie Goosen)