Drie nuwe raadslede vir Oudtshoorn lê ampseed af

Regs: Die Groter Oudts­hoorn se nuwe raads­lede is agter van links Fielies September (DA), Booi Berry (ANC) en Nao­mi Jon­­kers (ANC). Voor van links is Reginald Smit (waar­ne­men­de munisipale bestuurder), Julia le Roux-Krowitz (spea­ker) en Chris Mac­pher­son (burge­meester). Foto verskaf

DRIE nuwe raadslede wat tydens tussenverkiesings in Desember 2020 in drie wyke in die Groter Oudtshoorn verkies is, is verlede Vrydag (22 Januarie) in die raad ingehuldig.

Die nuwe raadslede, Fielies September (DA, Wyk 4), Naomi Jonkers (ANC, Wyk 5) en Booi Berry (ANC, Wyk 10) is deur die burgemeester, Chris Macpherson, asook ander raadslede van die verskillende partye in die raad verwelkom.

Die oomblik toe hulle die eed afgelê het, het hulle beelddraers van die munisipaliteit geword, het Macpherson aan die nuwe raadslede gesê.
Hy het hulle daarop gewys dat hulle nou die belange van al die mense in hul onderskeie wyke op die hart moet dra en gesê hy glo hulle sal hul nuwe verantwoordelikhede met erns bejeën.

Die speaker, Julia Krowitz-Le Roux, het die nuwe raadslede aangemoedig om baie hard te werk, maar verseker te wees van die steun van die res van die raadslede. Raadslede Hendrik Botha (DA), Jongilizwe Tya­Tya (ANC), Barbara Owen (Icosa) en Diswayne Maarman (EFF) het hulle namens hul partye verwelkom en voorspoed toegewens in hul posisies.

Die waarnemende munisipale bestuurder, Reginald Smit, het die nuwe raadslede op sy beurt gemaan om nie die belangrikheid van die amp as raadslid te onderskat nie.

“As deel van die raad verteenwoordig julle nou die regering en nie net ’n politieke party nie. Net soos jy jou gemeenskap liefhet, moet jy hulle ook dien. Net soveel as wat jy hulle dien, moet jy hulle daarop wys wanneer hulle iets verkeerd doen. Moenie diegene faal wat jou verkies het of diegene wat teen jou gestem het nie.”

Die tussenverkiesings het plaasgevind nadat drie DA-raadslede verlede jaar bedank het.