DIE saak teen ’n man van Gauteng wat hom as ’n advokaat voorgedoen en ’n sakeman van Oudtshoorn glo uit meer as ’n halfmiljoen rand bedrieg het, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn Landdroshof vir ’n formele borgaansoek tot volgende maand uitgestel.
Die hof het gehoor dat sy regsverteenwoordiger nog nie met hom kon konsulteer nie.
Dale Harmse (50) staan tereg op ’n klagte van bedrog.
Hy het reeds aangedui dat hy onskuldig op die klagte sal pleit.
Hy sou aanvanklik sy eie saak behartig het omdat hy ’n regsagtergrond het, maar het van plan verander en ’n regsverteenwoordiger aangestel wat nie verlede week by die hof was nie.
Harmse het aan die hof verduidelik dat die owerhede by die Oudtshoorn Gevangenis hom nie toegang tot ’n telefoon wil gee om met sy regsverteenwoordiger kontak te maak nie.
Landdros René Gerber het die saak vir ’n formele borgaansoek tot 11 Februarie 2021 uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)