WêRELDKANKERDAG word op Donderdag 4 Februarie herdenk. Om groter bewusmaking hieroor te skep, het die Suid-Kaap Karoo-distrikkantoor van die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) die volgende wenke gedeel:
• Ken jou liggaam: Wees bewus van enige verandering en doen gereelde selfondersoeke. Dit sluit jou vel, bors of testikels in. Ken die tekens en simptome van kanker.
• Kry inentings: KANSA stel voor dat mense inentings teen menslike papilloomvirus (MPV) en so ook Hepatitis-B, wat albei tot kanker kan lei, kry.
• Eet slim: Besoek www.cansa.org.za vir inligting.
• Gaan vir gereelde siftingstoetse: Volgens KANSA kan jy ’n afspraak maak by enige KANSA-sorgsentrum vir onder meer ’n kliniese borsondersoek, pap-smeer, prostaat-spesifieke antigeen, “FotoFinder” (velondersoek), en fekale okkultbloed-tuistoetsstel vir vroeë opsporing van moontlike kolorektale kanker.
• Wees aktief: Dit is volgens KANSA noodsaaklik om aktief te bly. Vanjaar kan mense deelneem aan ’n “Gijima vir KANSA” of jy kan Kankerdag se “Solidarity Challenge” – ’n wêreldwye virtuele fietsren – aanpak.
• Wees “sonslim”: Vermy uitermatige of langdurige blootstelling aan die son.
• Vermy: Tabakprodukte en alkohol.
Raak betrokke
KANSA het natuurlik ook die publiek se hulp nodig, en het ’n paar voorstelle gemaak van hoe ’n mens betrokke kan raak.
• Ondersteun ’n kankerpasiënt: Die publiek kan volgens KANSA praktiese ondersteuning bied, of iemand verwys vir KANSA-ondersteuning. Raak byvoorbeeld betrokke by telefoon-berading, die iSurvivor en MBC iSurvivor e-pos-ondersteuningsprogramme, of selfs virtuele en Facebook-ondersteuningsgroepe.
• Wees ’n kankervoorstander: Lewer voorspraak teen kankerstigma en -mites, en kankerpasiënte en -versorgers se regte. Verhoog bewusmaking oor die siekte en hoe om die risiko te verminder om dit op te doen.
• Skenk: Maak ’n aanlynskenking deur middel van hul webtuiste, of word ’n “aanlynkampioen” en werf fondse so.
• Dien as vrywilliger: Registreer om ’n KANSA-vrywilliger te word en behulpsaam te wees met pasiëntsorg, gesondheidsvoorligting en fondswerwing.
Kankerdag op Oudtshoorn
Volgens Adri Odendaal, gemeenskapsmobiliseerder van KANSA in die Suid-Kaap, gaan inwoners van Oudtshoorn betrokke kan raak by die KANSA “pancake mission and fundraising drive”.
“Mense sal van Maandag (1 Februarie) af pannekoek by my kan bestel, en dan gaan ons dit aflewer. Die karretjie gaan ook verfraai en versier word.
Ons wil mense ook aanmoedig om betrokke te raak, hetsy dit fisiek of deur middel van skenkings is,” sê sy.
Kontak Adri by 072 133 0444.
Wêreldkankerdag om die draai
