Covid-19-sterftes van egpaar en jong vrou laat dorp verslae

Bo: Die Januarie=egpaar. Patrick en Maryka, wat kort na mekaar gesterf het. Foto verskaf Regs: Die pragtige Josinda Herling se dood het inwoners van Ladismith woordeloos gelaat. Foto: Facebook

DOODSTYDINGS waarvan Covid-19 vermoedelik die oorsaak is, word al hoe meer op Ladismith gehoor.

Verlede Maandagaand (18 Januarie) was menige inwoners stomge­slaan deur die skielike dood van die oud-soldaat Patrick Januarie (49). Vandeesweek Maandag het sy eggenoot, Maryke (43), ook aan Covid-19-verwante oorsake in die Alan Blyth Hospitaal op Ladismith gesterf.

Die ambulans waarmee Patrick verlede week na George vervoer is, moes voor die Huisrivierpas omdraai toe Januarie gesterf het.

Maryke het nog gehelp om reëlings vir sy begrafnis vir Dinsdag 26 Januarie 2021 te beplan.

Die egpaar, wat onlangs in ’n netjiese nuwe woning ingetrek het, laat twee jong dogters agter.

Die dorpie het skaars kans gekry om die dood van die Januarie-egpaar te verwerk, toe die skoknuus bekend word dat ’n bekende jong inwoner van die dorp, Josinda Herling (29), ook aan Covid-19 gesterf het.

Josinda laat haar driejarige kleuterdogtertjie, Judy-Anne, agter.
Die Hoorn se verslaggewer op die dorp was by die hospitaal toe die nuus oor Maryka se dood bekend geword het en kon waarneem hoe verpleegpersoneel trane stort oor die Covid-19-sterftes. (Deur Deon Meyer)