
Die Flink-gesin erken die hulde wat aan hul vader en eggenoot gebring word. Foto: Deon Meyer
COVID-19 het nuwe gebruike en terminologie laat deel word van ons lewens – soos ’n verbyrit of “drive-by” wat erkenning gee aan mene wat gesterf het. Donderdag (5 Augustus) het twee sulke verbyritte vir twee bekende vaderfigure van Ladismith plaasgevind.
’n Verbyrit vir die geliefde sakeman Henry Flink het by die gholfbaan begin en het daarna deur die sentrale sakekern en die woongebied Nissenville beweeg to by Flink se bakkery en winkel. Hier het leerders van die Ladismith Sekondêre Skool, in skooldrag geklee, ’n erewag gevorm. Vriende en inwoners het in stilte ’n ruiker of blomme by ’n tafel voor Flink se familie neergesit. ’n Jarelange familievriend, Morgan Ferus, het die verrigtinge gelei, wat ook regstreeks op Facebook te sien was.
Op die skougronde het die plaaslike SAPD sowel as lede van die Worcester SAPD bymekaargekom om hulde te bring aan hul ontslape kollega, lt kol Francois Linde. Dié verrigtinge is deur kapelaan John de Ruiter van Worcester, waar Linde die laaste tyd gewerk het, gelei.
De Ruiter het Linde as ’n passievolle mens wat baie trots op sy roeping was, bestempel, en gesê sy kinders kan baie trots op hul vader wees en hom as ’n mens met integriteit onthou.
’n Motoroptog hierna deur die dorp se strate het by die plaaslike pPolisiekantoor geëindig. (Deur Deon Meyer)