Donson weer Oudtshoorn se 2de burger

Vlancio Donson van Icosa is Oudtshoorn se nuwe onderburgemeester. Foto: Stefan Skapie Goosen

VLANCIO DONSON van Icosa is Donderdag (24 November) verkies tot onderburgemeester van die Groter Oudtshoorn nadat Mlandeli Nyuka van Suid-Kaap Saamstaan uit die pos bedank het. Donson het dié amp al voorheen beklee.

Nyuka het in ’n brief, gelees deur speaker Johan Allers (VF Plus), sy bedanking as onderburgemeester tydens ’n spesiale raadsvergadering Donderdagmiddag ingedien.

Donson is sonder enige teenstem tot onderburgemeester verkies, en Nyuka bly steeds die Saamstaan-raadslid vir die Groter Oudtshoorn.

Luidens ’n persverklaring van die Groter Oudts­hoorn Munisipaliteit het Nyuka in sy bedankingsbrief die wens uitgespreek dat die amp van die onderburgemeester sal voortgaan om diens aan die gemeenskap te lewer.

Nyuka is tans betrokke by hofsake en nie in staat om die amp te beklee nie.

“Hy skryf verder dat die beginsels van Batho Pele in die munisipaliteit gehandhaaf moet word en dat sy regsake nie die gemeenskappe van Oudts­hoorn se reg op effektiewe en doeltreffende dienste in gevaar mag stel nie,” lui die persver­klaring.

Die munisipaliteit het bevestig dat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) bevestig het dat Nyuka die leier en gemagtigde verteen- woordiger van Suid-Kaap Saamstaan is.

Nyuka behou dus sy posisie as raadslid en het ook sy betrokkenheid by die huidige regerende veelpartykoalisie bevestig.

Vroeër gerugte dat ’n party met die naam “Saamstaan Suid-Afrika” hul van die veelparty­koalisie gedistansieer het en dit ’n invloed sou hê op die raad, is wyd verwerp omdat ’n party met hier­die naam nie tans erken word deur owerhede nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)