SAMEWERKING tussen inwoners, ’n sekuriteitsmaatskappy en die Oudtshoorn Polisie het Sondagaand daartoe gelei dat ’n fietsdief in Bergsig, Oudtshoorn in hegtenis geneem is nog voordat die fietseienaar die diefstal ontdek het.
’n Tweede fietsdief wat saam met hom was, het egter herhaaldelik daarin geslaag om weg te hardloop sonder dat hy vasgetrek kon word.
Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die eerste fietsdief sy rieme styfgeloop nadat ’n motorhuisdeur in Gwarriestraat in Bergsig oopgeforseer en ’n fiets van sowat R30 000 gesteel is.
Harry Coetzee van Blacklist Security, die sekuriteitsfirma wat gehelp het om die diefstal van die fietse te voorkom, sê die fietsdiewe is deur ’n sekuriteitskamera in die omgewing afgeneem en hy is deur ’n inwoner daarvan in kennis gestel.
Hy het die polisie se Honde-eenheid hieroor ingelig waaarna hulle onmiddellik gereageer en die eerste fietsdief vasgetrek het.
Die tweede fietsdief het daarin geslaag om weg te hardloop, maar volgens Coetzee, wat ook na die toneel gejaag het, het dié man later teruggekeer en is hy opgemerk waar hy nog ’n fiets probeer steel het.
Hy het die fiets tussen die weermagkamp en Bergsig neergegooi en weer gevlug, dié keer waarskynlik die aanliggende veld in.
Maandagoggend het Coetzee inligting ontvang dat dié man in ’n sloot in die Oewersig-omgewing, nie ver van Bergsig af nie, opgemerk is.
Hy het egter ook dié keer daarin geslaag om weg te kom van die polisie en sekuriteitspersoneel nadat hy tussen digte bome in ’n watersloot langs Oewersig ingehardloop het. (Deur Liesel le Roux)
Bergsig-fietsdiewe: Een vas, tweede hardloop weg
