Dapper Lulu se moeisame pad na ongeluk

Die dapper Lulu Spies (regs) wat tans by die huis sowat 50 km vanaf Oudtshoorn aan­sterk. Bo is ’n foto van haar voor die ongeluk. Foto’s verskaf

’N OUDLEERDER en leerlingraadslid van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, Lucinda (Lulu) Spies (20), stap daagliks ’n lang en uitdagende pad na herstel nadat sy op 28 Julie vanjaar ernstig beseer is in ’n motorongeluk in Bloemfontein.

Lulu, wat haar veiligheidsgordel aangehad het, is deur die agtervenster van haar motor geslinger toe ’n band vermoedelik ’n slaggat getref en gebars en die motor gerol het.

Sy het in daardie stadium ’n kursus in die skoonheidbedryf in Bloemfontein gevolg.

Sy het 13 ernstige beserings opgedoen, waaronder ’n skedelbreuk, ’n gebreekte bokaak, twee gebarste en twee gebreekte rugwerwels, ’n pelvisbreuk, ’n gebreekte regterfemur, terwyl haar milt ook geskeur was en beide longe platgeval het.

Volgens haar ma, Heidi Spies, was Lulu meer as twee weke in ’n mediese koma in die Pelonomi Staatshospitaal se hoësorgeenheid te midde van onsekerheid of sy sou oorleef.

Stappie vir stappie het sy egter aangesterk.

Sy het drie bloedoortappings gekry, haar femur is met skroewe geheg en op 14 Augustus is sy van die ventilator afgehaal. Op 15 Augustus is sy stadig uit haar koma gebring. Sy kon glad nie eet of praat nie, en is twee dae later geskuif na die trauma-eenheid in die hospitaal, waar begin is met fisio-, arbeids- en spraakterapie.

Sewe weke later is sy ontslaan en kon Heidi haar huis toe bring, na ’n plaas sowat 50 km van Oudts­hoorn af in die De Bad-omgewing.

“Tuisversorging vir Lulu is ’n groot uitdaging, maar ek is dankbaar vir haar pa wat daarvoor betaal, veral omdat ons so ver van Oudtshoorn en George af bly waar sy die nodige terapie moet kry, en ek voltyds werk,” sê Heidi.

Sy sê finansies is egter steeds ’n uitdaging vir haar as ’n enkelma wat voltyds werk.

Sy moet byvoorbeeld ’n tuisversorger betaal om haar dogter bedags te versorg.

“Lulu kan nie vir lang rukke sit nie, en die dae moet haarfyn beplan word. Maar ons vat elke dag soos dit kom, veral omdat ons nie weet wat die omvang van veral haar kopbeserings is nie.”

Sy sê hoewel Lulu nog baie pyn verduur, druk sy haarself hard om elke dag haar oefeninge te doen en kan sy al met hulp klein entjies stap.

“Ek is ongelooflik dankbaar vir elkeen wat ons bystaan en help, boodskappe stuur en ook almal se gebede deur hierdie uitdaging.” (Deur Angelique Erasmus)