Donson se toestand stabiel

DIE gesoute politikus, voormalige burgemeester van Kannaland en pre-sident van Icosa, Jeffrey Donson, word tans in die waakeenheid van die Mediclinic George behandel nadat hy met Covid-19 gediagnoseer is.

Donson is verlede Woensdag (12 Augustus) inderhaas na die Alan Blyth Hospitaal op Ladismith gehaas toe hy asemhalingsprobleme begin ondervind het. Hy is kort daarna na die Mediclinic George oorgeplaas, waar hy gediagnoseer is.

Donson se eggenoot, Abigail, sê hoewel haar man nog baie siek is, is sy toestand stabiel. Hy is aan ’n asemhalingstoestel gekoppel.

“Ons gesin glo dat die Meester hom sal genees en waardeer die ge-bede wat vir hom uitgaan,” het sy gesê. “Hy kan geen oproepe ontvang of self op oproepe reageer nie. Hy sal ná sy herstel met die gemeenskap van Kannaland praat.”

Abigail het ’n versoek aan die gemeenskap gerig om die gesin se privaatheid in dié tyd te respekteer. “Ons waardeer egter alle boodskappe van bemoediging.”

Donson is ’n deurwinterde politikus wat onlangs sy ontevredenheid oor die heropening van skole tydens die Covid-pandemie uitgespreek het. (Deur Deon Meyer)