

DIE vierde Oudtshoorn Dieredag, aangebied deur die staatsveearts en die Animal Care Team (ACT) vind dié Saterdag van 09:00 tot 15:00 by die staatsveearts in Van der Rietstraat plaas.
Inwoners van die Groter Oudtshoorn en hul geliefde troeteldiere word uitgenooi om die dag saam te kom geniet met iets van alles vir oud en jonk. Alles is ten bate van dierewelsyn op Oudtshoorn en ACT – ’n nie-winsgewende dierewelsynorganisasie op die dorp – se gereelde sterilisasieklinieke.
Hierdie jaarlikse fondsinsameling is ook ten bate van die gemeenskapskliniek wat deur ACT tesame met die staatsveearts op die been gebring is.
Die organisasie het vanjaar reeds 228 sterilisasies, 789 inentings teen onder meer hondsdolheid, 608 ontwurmings, 410 bosluis- en vlooibehandelings, en 218 ander behandelings en operasies vdeur middel van hierdie gemeenskapsklinieke gedoen.
Buiten gratis hondsdolheidinentings asook vlooidip en naelknip vir honde teen ’n skamele R5 sal daar Saterdag ook ’n wye verskeidenheid stalletjies en vermaak op die spyskaart wees om oud, jonk, wollerig én harig besig te hou!
Onthou dat alle honde aan ’n leiband en alle katte in ’n mandjie moet wees.
• Die wenners van ACT se Owner Pet Lookalike/Dress Alike-kompetisie sal ook Saterdag by Dieredag bekend gemaak word.