Dié samesmelting kry toe die groen lig

Deur Liesel le Roux
KLEIN Karoo International (KKI) en Mosstrich het verlede Woensdag (14 Augustus 2019) die groen lig by die Mededingingskommissie gekry om voort te gaan met hul planne om saam te smelt.

Die nuwe maatskappy sal bekend staan as CapeKaroo International (CKI) en vanaf 1 Oktober funksioneer.

Die Mededingingskommissie het verlede jaar KKI en Mosstrich se aansoek om samesmelting afgekeur omdat gevrees is dit kan tot ’n amperse monopolie in die volstruisbedryf sou lei.

Die twee maatskappye het in Julie by ’n tribunaal die geleentheid gekry om weer hul saak te stel.

Volgens Johan Schoeman, uitvoerende hoof van Klein Karoo Beperk, het die samesmelting die stabilisering en volhoubaarheid van die volstruisbedryf ten doel, nadat verskeie faktore die afgelope jare die volstruisbedryf laat krimp het.

Schoeman sê die samesmelting van die twee maatskappye sal versigtig hanteer word sodat geen van die huidige bedrywighede of dienslewering ontwrig word nie. Geen groot veranderinge word vir die nabye toekoms beoog nie.

• Die goedkeuring vir samesmelting moet aan ’n reeks voorwaardes voldoen, wat KKI en Mosstrich volgens Schoeman steun.

Die voorwaardes vir die samesmelting sluit die volgende in:

• Die nuwe maatskappy moet ten minste 40% van sy slagvolstruise se vere jaarliks op tender beskikbaar stel sodat vere steeeds beskikbaar sal wees vir derdepartye soos Lewitton Industrial CC, Rancho Las Plumas en die Opsa Groep wat vere wil aankoop. Volstruisboere wat hul volstruise na die slagpale bring, moet ook toegelaat word om die vere te behou as hulle wil.

• Die nuwe maatskappy moet ’n sekere hoeveelheid van sy volstruisvleis vir die plaaslike Suid-Afrikaanse mark beskikbaar stel. Die hoeveelheid is nie bekend gemaak nie.

• Die nuwe maatskappy moet sy abattoirs en looierye – indien daar kapasiteit is – teen reg-verdige terme aan ander partye beskikbaar stel.

• Huidige kontrakte van Mosstrich met Buffels-kom Boerdery en Ostriland word voortgesit, onderhewig aan ’n kennisperiode van 24 maande deur enige van die partye.

• Geen personeel mag vir ’n tydperk van drie jaar verminder (retrench) word as gevolg van die samesmelting nie.