Dié donkie is ’n wonderlike ding

Bo: Die oulikse donkiemerrievul Kara Wonderful bly beskermend naby haar ma Saartjie. Foto Marita Meyer

Die ooievaar het vandeesweek ’n draai op Celebratio Granaatplaas net buite Oudtshoorn gemaak, en die oulikste langoordonkie is daar gebore.

Kara Wonderful is haar naam, en sy is die spruit van Saartjie en Pippie. Die eienaars Marita en Gerhard Meyer spog soos trotse nuwe ouers oor dié jongste toevoeging.

“Ek het verlede jaar my twee hingsdonkies laat kastreer. Karoolus is ongelukkig die volgende oggend dood aangetref en dit was ’n hartseer saak vir almal wat vir hom lief was,” het Marita aan Die Hoorn gesê.

Min het hul geweet dat daar reeds ’n broodjie in die donkie-oondjie skuil, en sowat sewe maande later is hulle die Sondagoggend verras met die oulikste langoornuweling.

“Saartjie is baie beskermend oor Kara – dit is haas onmoontlik om ’n foto van die kleinding te kry. Ons kan ons verkyk aan die twee,” vertel sy.

Kara Wonderful is vernoem na Karoolus, wat diep spore in hul harte getrap het. “Sy is die grootste blessing vir ons, en dit is asof sy die hartseer en leemte kom vul het wat Karoolus agtergelaat het.”

Klein Kara is reg aan die einde van oestyd gebore, wat vir hul baie simbolies is.
Dit was ’n baie goeie seisoen en die bome het gul gedra aan pragtige, groot granate.

“Haar geboorte is vir my die perfekte afsluiting van ’n ongelooflike geseënde seisoen.”

“Sy het groot skoene om te vul, of altans, ore om in te groei.” sluit Marita af.