Die avonture van Kieter & Kat

Janien Müller se strokiesprent, Kieter en Kat sal eersdaags gereeld in Die Hoorn te sien wees. Die 16-jarige is ook deel van haar skool, Langenhoven Gimnasium se redaksiespan waar sy ook ’n strokiesprent vir hul skoolkoerant, Jack en Lisa teken. Skets: Janien Müller Foto onder: Janien Müller.

Die talentvolle 16-jarige Janien Müller, het ingestem om ’n reeks strokiesprente vir Die Hoorn, Kieter en Kat, te teken. Hierdie tiener teken al vandat sy ’n potlood kon vashou, maar het in Graad 7 op die ouderdom van 13 nuwe tegnieke en style begin aanleer.

Sy verduidelik dat die rede waarom sy teken is dat ander kunstenaars en animasie haar inspireer. “Ek wil graag my eie kuns skep en so ander inspireer,” sê sy.

Haar gunsteling tydverdryf wanneer sy nie agter papier en potlode van die hele reënboog se kleure sit nie, is om boek te lees of om te ontspan met ’n lekker rolprent. Haar kop is vol verskillende stories en idees.

Sy verduidelik aan Die Hoorn “As ek na iets kyk, kan ek al sien waar ek dit wil gebruik, my gedagtes is gevul met boksies propvol idees,”, maar wanneer dit eksamentyd is moet sy egter die boekies eers op sy skuif en konsentreer op skoolwerk.

Janien wil graag eendag grafiese ontwerp gaan studeer, en ook animasie doen. Sy stel ook baie belang in argitektuur. Dit blyk dat elke beroep met ’n vorm van kuns, ontwerp en inspirasie behels.

Sy het ook aan heelwat kompetisies deelgeneem en gewen. Hierdie kompetisies spoor haar aan om met nuwe idees na vore te kom. Sy het in September by die Tuinroete Eisteddfod erkenning ontvang as die top senior gemengde mediawenner vir 2023 asook die beste visuele kunstenaar vir 2023.

Met haar inskrywing vir die Con Spirito is sy ook in September aangewys as die nasionale wenner in 3 afdelings (gemengde media, olie-pastelle en kleurpotlood).

Sy het ook 2de plek opgeraap in die visuele kuns afdeling. Daar is natuurlik groot nuus in die pyplyn, maar Die Hoorn kan eers daaroor berig sodra dit amptelik gemaak word – so hou die kunstenaar in die koerant dop!

Vir haar is dit lekker om te gaan stap, na musiek te luister, veral wanneer sy teken en sy sal animasie rolprente twee keer of meer keer kyk. “Die eerste keer vir die storielyn, en dan daarna vir die animasie om die simboliek, boodskap, tegniek, kuns en fyn detail uit te pluis,” verduidelik sy.

Die Hoorn sien baie uit, nie net na haar reeks spesiaal vir die koerant nie, maar ook vir die blink toekoms wat vir Janien wink.

Hou haar gerus dop, en besoek haar Facebook profiel JM Sketches om haar talent te besigtig!

Welkom by Die Hoorn-span Janien!