Deon Meyer die eregas

7de Prince Albert Leesfees – 1 tot 4 November

Deon Meyer. Foto: Marianne Vorster

Deur Marlene Malan
DIE gewilde en internasionaal bekende en vertaalde spanningsverhaalskrywer Deon Meyer is vanjaar die eregas by die sewende Prince Albert Leesfees wat van 1 tot 4 November plaasvind. Hy stel sy nuwe roman, Prooi, by die fees bekend.

By die amptelike openingsgeleentheid op Vry­dag 2 November gaan die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, ’n toe­kenning aan Meyer oorhandig vir sy bydrae tot kultuur en die skryfkuns.

Meyer is deur die loop van die naweek by twee gesprekke betrokke: In die eerste gaan die spanningsromanskrywer Bettina Wyngaard hom uitvra oor sy lewe en loopbaan, en in die tweede gaan sy en Meyer met nóg twee skrywers in dié genre, Martin Steyn en Jo Nel, die verhoog deel om oor die gewildheid van misdaadromans te gesels. Steyn (Losprys) en Nel (Die hond wat ophou blaf het) se boeke is ook kraaknuut, terwyl Wyngaard se volgende spanningsroman, Jagter, in Februarie aanstaande jaar verskyn.

Dit is egter nie die einde van die spanningsgesprekke tydens die fees nie: Die joernaliste Julian Jansen (Die De Zalze-moorde) en André le Roux (Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste) gaan ’n onderwerp bespreek waarin die meeste mense belangstel:

Dit is die karakter van dié soort mense wat jou glimlaggend nader lok, maar planne maak om jou ondergang te bewerkstellig.

Daar is geen tekort aan memoires by vanjaar se Leesfees nie: Karin Cronjé met There Goes English Teacher, Lukhanyo en Abigail Calata met My Father Died for This en Jeremy Vearey met Jeremy vannie Elsies. Ander interessante boeke wat bespreek word, is Die Dorslandtrek (Nicol Stas­sen), Dors (Marinda van Zyl), ’n Brief vir Rei­na (Elsa Winckler), Kalmte in die malle gejaag (Johannes de Villiers), Ingrid Jonker: Die biogra­fie (Petrovna Metelerkamp), Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhede) (André le Roux) en Moving to the Platteland (Chris Marais en Julienne du Toit).

Twee skrywers, Dennis Cruywagen en Louisa Punt-Fouché, het gesprekstemas gekies aan die hand van hul boeke The Spiritual Mandela en Ek skryf met bloed en bene – onderskeidelik: “Ver­soe­­ning en rassehaat: Waarom Malema Mandela se erfenis wil vernietig” en “Die vrou en die aarde: ’n Duisend stemme in die nou”.

Poësie is ’n belangrike element van die fees, met Jolyn Phillips (Radbraak), Clinton du Plessis (Aantekeninge teen die skemeruur), Tony Ulyatt (An Unoptrusive Vice) en Gaireyah Fredericks (Kaaps is weer Hollands).
Vanjaar stel die Prins Albertse kookskool Afri­can Relish hul nuwe kosboek African Relish: A collection of recipes, memories and experiences from a Karoo town bekend op 1 November, by die kookskool self. Kaartjies (R125) sluit in die bedie­ning van geregte uit die boek.

Prince Albert Leesfees 2018 het die bekende algemene kennis-koning Dawid van Lill van George genooi om as onderhoudvoerder by heelparty ge­sprekke op te tree. Hatchetman, Orrwellington en Hannes Coetzee en Loit Sols sorg vir die musiek.

Vir inligting en aanlyn kaartjieverkope, laai die Prince Albert Leesfees 2018-App af by Google Play, of besoek www.princealbertleesfees.org