Dié ingang nou weekliks skoongemaak

Herold Lekay, bestuurder reinigingsdienste, en sy span verlede week met hulle weeklikse skoonmaakoperasie by Oudtshoorn se ingang langs Rose Valley. ’n Laaigraaf word ook ingespan om die rommel op ’n hoop te stoot, waarna die werkers dit optel en in swartsakke sit. Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
’N WEEKLIKSE skoonmaakprojek by die ingang van Oudtshoorn vanaf Dysselsdorp en De Rust, werp vrugte af.

Volgens Herold Lekay, bestuurder reinigings­dienste by die Oudtshoorn Munisipaliteit, het hy en ’n span werkers vroeër vanjaar begin om die gebied weekliks skoon te maak.

“Dis nie ’n maklike taak nie, aangesien dit ’n groot uitgebreide area is en inwoners net weer hul vullis oor hul heinings gooi of oorkant die pad gaan stort. En wanneer die wind begin waai, lê die rommel ook weer oral.”

Lekay sê daar is tans drie spanne wat regoor Oudtshoorn werk volgens ’n skoonmaakrooster.
Woensdae word ’n paar werkers van el­ke span afgeknyp om die ingang skoon te maak. ’n Laaigraaf word inge­span om die rommel op ’n hoop te stoot. “Ons begin by die Stop and go en werk te­rug na Oudtshoorn se kant.” sê Lekay.

Volgens hom word vullis Donderdae by die huise in die aangrensende Rosebank en Rose Valley opgelaai, maar wil inwoners nie hul swartsakke tot dié dag in hul erwe hou nie. Inwoners ontvang elke drie maan­de swartsakke by die munisipaliteit.

“Die enigste manier om dié pro­bleem hok te slaan, is om mense op te voed en meer te leer sodat hulle nie rommel oral strooi nie,” sê Lekay. “Tot dan sal dit ’n weeklikse stryd wees.”