Dagga-bakkie laat koppe draai

Dave Sewell (links) en Kobus Schoeman by die bakkie wat so koppe laat draai het in Oudtshoorn se strate. Waarheen nou? Net vorentoe. Foto: Stefan Skapie Goosen

DEESDAE is die kwessie om dagga, of kannabis, meer aanvaarbaar as so vier of vyf jaar gelede; om nie eens te praat van 20 tot 30 jaar gelede nie. Maar daar is tog steeds ’n konserwatiewe mening by baie hieroor en ’n stigma om dié plant by baie mense.

Dus was dit nogal ’n affêre toe ’n wit Mazda-bakkie vol kannabis-blare en die woorde I love Dagga verlede week deur Oudtshoorn se strate gery het, met inwoners se monde wat oopgehang het of ander wat na hul selfone gegryp het om ’n foto of twee te neem.

Die man verantwoordelik hiervoor is Dave Sewell (48). En sy storie is nie dié van ’n man wat sensasie wil kweek of mense wil skok nie. Nee, Dave het ’n doel met dié bakkie en ’n landwye “roadtrip” wat hy tans doen.

Dave vertel hy wil bewustheid oor dié plant kweek – oor die voordele daarvan vir mense se fisieke en emosionele welstand, en hul regte ten opsigte van onder meer die aanplanting, gebruik en besit daarvan.

Hy was immers al aan beide kante van die “argument” en wetgewing daaroor – as jong polisiebeampte vroeër, en nou as kweker en aktivis. Tog skerts hy dat hy nooit in sy sewe en ’n half jaar as polisiebeampte in Johannesburg iemand in hegtenis geneem het vir dagga nie.

Tydens ’n vinnige ontbyt by Café Brûlé voordat hy verder sou reis na Suurbraak toe, het Dave Die Hoorn meer vertel van sy kruistog. Verteenwoordigers van Grow One Africa (GOA), ’n organisasie wat bewustheid wil skep oor die gebruik en wette rondom dagga en wat sosiale klubs landwyd ondersteun, het saamgesels.

Dave het op 22 Junie op sy toer uit Pretoria vetrek, en sedertdien koppe oral laat draai, nie net in die Klein Karoo nie. Volgens Dave het hy reeds die bakkie gehad, en al twee jaar lank dié toer deur die land beoog. “Ek wou dit graag doen, en met die hulp van GOA kon ek dit uiteindelik vermag. Hulle het gehelp met die branding van die bakkie, en ek besoek onder meer al die sosiale kannabis-klubs wat landwyd in vennootskap is met hulle,” vertel hy.

Sy toer eindig op 1 Augustus, maar tot dan sal hy al die kusdorpe in die Oos- en Wes-Kaap en daarna die Vrystaat en Noordwes besoek voordat hy huistoe keer en al die Gauteng-klubs gaan besoek.

“Dit gaan alles daaroor om bewustheid te kweek – dis die hoofdoel. Die stigma rondom dagga móét aangespreek en gebreek word; dagga is nie gagga nie,” sê hy met beide erns en ’n giggel. Dave poog ook om bewustheid oor die medisinale gebruik van dagga te weeg te bring. “Ek toets al jare lank mediese produkte wat uit die plant gemaak word, en ek weet uit ondervinding hoe goed dit vir mens se fisieke en geestestoestand is.”

Al is die wette rondom dagga en die gebruik daarvan steeds bietjie vaag in Suid-Afrika, glo Dave daar is sekere wette en regulasies waarvan mense moet weet. Jou privaatheid en jou private eiendom, sê hy, is baie belangrik wanneer mens hieroor praat.

Die reaksie wat hy oor sy bakkie kry, was nog net positief, sê Dave. Hy is nog nie een keer deur polisie- of verkeersbeamptes voorgekeer nie, en die bakkie wek baie positiewe gesprekke. “Die aantal koppe wat ek en die bakkie al laat draai het, is ongelooflik. Mense gesels graag oor alle aspekte van die plant, en wetgewing. Daar is natuurlik ’n paar grompotte wat my net aankyk, maar dis juis hulle asook wetstoepassers, wat ek graag wil inlig oor die plant.”

Kobus Schoeman, Oudtshoorniet en direkteur van GOA, sê sy organisasie staan bankvas agter Dave en sy kruistog.

“Dave en sy bakkie is vir my een van daai mooi voorbeelde waar mens jou passie jou werk kan maak. Hy is een van daai mense met baie ondervinding en kennis. Hierdie is ’n splinternuwe bedryf en ons moet aan kreatiewe maniere dink om dit te bou. Omdat GOA en Dave, en al die ander klubs, ’n affiliasie met mekaar het, is dit soos familie. Met Dave wat so van plek tot plek gaan, is dit asof die familie by mekaar uitkom.”

Volgens Kobus is daar reeds meer as 5 000 klublede landwyd in vyf provinsies, met verdere planne in die oorblywende provinsies.

“Om 5 000 mense bymekaar te bring uit alle uithoeke van die land, is onmoontlik. Dave se toer bring daai ‘gom’ na die familie toe. Ek is nogal aangenaam verras oor hoe opgewonde die mense hieroor is. Ons het selfs ’n ‘Where is farmer Dave’-bladsy op Facebook, en toe hy hier in ’n parkeerarea stilhou, toe herken mense hom! Mense wat ek nie eers ken nie, vra vir my ‘wie is die dagga ou’, en hierdie keer vra hulle nie oor my nie,” sê hy laggend.

Kobus sê Dave se bakkie maak die gesprek rondom dagga makliker.

“As daar so bakkie in jou straat afry, en almal is gelukkig daaroor – bedoelende daar is geen slegte stigma nie – help dit om barriers tussen mense af te breek. Mense stel regtig belang, en hulle begin vrae vra, selfs die polisie. Dit is juis wat ons wil hê. Ons kan mense inlig oor hul regte, en wat die polisie mag en nie mag doen nie.” (Deur Stefan Skapie Goosen)

3 Comments on "Dagga-bakkie laat koppe draai"

  1. Denzyl Harper | 04/07/2022 at 21:17 |

    Awesomeness. Let the information flow freely as THC is the homedrive for so many. People are basically shy to come out and say, yes I love cannabis. I sure do love THC mixed with pure coconut oil as a tincture for pain and sleep.

  2. Cecilia Lombard | 02/07/2022 at 08:15 |

    Dit gaan net eindig in “daggarook verbruik,” wat nadelig is vir jou “longe” en daggarokers is op n wonderlike high, alles is dan ok en reg. Sulkes het geen verantwoordelikheidsbesef nie en die mense rondom hul kry die swaarste. Hul trek jou finansieel af. Lui want als is ok. Kan my niks vertel nie. Het 45jr ervaring van sulkes. Sluit die man toe, Hy leef in n droom. Ons land se mense is “baie beinvloedbaar(vulnerable) vir verkeerde dinge”. Waarom is daar dan nog nie “uitstekende dagga medikasie” in USA nie ? Hy praat b s en wil homself verryk daardeur.

  3. Linda Blaauw | 01/07/2022 at 17:35 |

    Kyk hoe lyk sommige kinders se voorkoms van dagga rook hulle is marr verwaarloos…..sjoe praat maar liewers nie……

Comments are closed.