‘DA-munipaliteit wil nie eens met ons praat nie,’ sê prokureur

DIT wek verseker baie vrae – die verhaal hoe die munisipaliteit onder die ANC/NPP/Icosa-bewind honderde duisende rande betaal het om ’n raadslid te laat sekwestreer wat geen bates gehad het nie.

En nou dat die DA oorgeneem het, val versoeke dat die munisipaliteit die sekwestrasie-eis teen oud-DA-raadslid Pierre Nel (62) moet terugtrek – omdat hy geen bates het nie en sodat hy hom kan rehabiliteer en weer ’n betrekking kan aanvaar – klaarblyklik ook op dowe ore.

Leon Coetzee van die regsfirma Coetzee en Van der Bergh, wat pro amico vir Nel optree, sê dis baie teleurstellend dat die DA-beheerde munisipaliteit nie die onreg teen Nel wil regmaak nie en boonop weier om hul optrede te motiveer.

“Dit is ’n skande dat Pierre Nel finansieel deur die vorige Oudtshoorn-raad geruïneer is omdat hy namens die DA-raadslede opgestaan het teen die heraanstelling van Noël Pietersen as munisipale bestuurder in 2010, en die uitbetaling van ’n skeidingspakket van R1,5 miljoen aan hom. Ek is baie teleurgesteld in die wyse waarop die DA-raad hom nou ook verwerp het.”

Nel, wat namens die DA-raadslede in die hofsaak opgetree het, is gesekwestreer toe hy die hofsaak verloor het en nie die regskoste kon betaal nie. Hoewel die DA aanvanklik in ’n brief geskryf deur die DA Federale Raad se voorsitter, James Selfe, aangedui het dat hulle raadslede betrokke by die saak se koste sou dra, het die party dit slegs gedeeltelik gedoen. (’n Afskrif van Selfe se brief aan Jac Bekker, Oudtshoorn LP, gedateer 18 Augustus 2010, is in Die Hoorn se besit.)

Coetzee sê daar is sedert die oorname deur die DA verlede jaar verskeie kere met die munisipaliteit oor Nel se situasie probeer praat, maar dat hulle geen reaksie van die munisipale bestuurder, burgemeester of speaker ontvang het nie.

“Die munisipaliteit was die enigste eiser in die saak teen Nel en is voordat hy gesekwestreer is, ingelig dat hy geen bates gehad het nie. Dié optrede het die munisipaliteit sowat R300000 gekos.

“Ons het die nuwe ampsdraers versoek om die eis teen Nel terug te trek en dit as ’n agendapunt by ’n raadsvergadering te bespreek – wat ingevolge Art 51 van die Insolvensiewet Nr 24 van 1936 gedoen kan word as daar nie bates is nie – sodat hy kan rehabiliteer en weer ’n werk kan kry, maar hulle wil nie eers met ons praat nie.

“Die onreg wat teen Pierre gepleeg is, kan nooit weggeneem word nie, maar hy kan minstens gehelp word deur sy insolvensie tersyde te laat stel sonder enige koste vir die munisipaliteit.”

Coetzee sê Nel sal soos sake tans staan, op die vroegste eers oor drie jaar om rehabilitasie kan aansoek doen.

“Dis nie hoe ons verwag het die DA Oudtshoorn sou bestuur indien hulle aan bewind gekom het nie.”

• Die Hoorn het die afgelope week verskeie navrae oor dié aangeleentheid aan die Oudtshoorn Munisipaliteit gerig – onder meer oor hul oënskynlike weiering om gesprek te voer oor die moontlike terugtrekking van die eis teen Nel. Onder ons vrae was die volgende:

1. Om watter rede word met die eis voortgegaan, al weet die munisipaliteit Nel het geen bates nie?

2. Sal die munisipaliteit op grond van menslike redes oorweeg om die eis teen Nel terug te trek sodat hy vir rehabilitasie kan aansoek doen? Hy is nou 62 jaar oud en ons verstaan as die eis voortgaan hy nog vyf jaar sal moet wag – totdat hy 67 jaar oud is – voordat hy weer sal kan werk.

3. Wat is die omvang van die regskoste teen Nel tot dusver vir die munisipaliteit?
Die munisipaliteit het geen van Die Hoorn se navrae beantwoord nie. Ons sal vandeesweek weer vrae aan hulle stuur (wat nie oor die optrede van die DA provinsiaal gaan nie), spesifiek oor die optrede van die plaaslike munisipaliteit.

• Die Hoorn het ook aan James Selfe gevra hoekom die DA nie al Nel se regskoste betaal het soos hy in sy brief onderneem het nie. Selfe het in reaksie gesê sy brief het slegs op die aanvanklike Hooggeregshofsaak betrekking gehad en nie op die appèlhofsaak nie, en dat die DA wel die Hooggeregshofsaak betaal het.