Crafford tree af

Op 31 Desember gaan Oudtshoorn ’n hoeksteen in die Polisie verloor wanneer Brigadier Susan Crafford na 3 jaar as Stasiebevelvoerder gaan aftree.

Crafford se loopbaan het 37 jaar gelede in Ladismith begin waar sy grootgeword het op haar haar ouers se plaas. Nadat sy haar meestersgraad verwerf het, is sy na die Oos-Kaap gestuur waar sy diens gedoen het in Gqeberha. In 1991 is sy bevorder na Offisier en is sy na Johannesburg oorgeplaas. “Daar was baie uitdagings vir my in Johannesburg.

Ek het diens gedoen in plekke soos Soweto, die destydse John Vorster Plein en Hillbrow. Maar vir my loopbaan was dit baie goed gewees”, het sy aan Die Hoorn vertel.

Crafford is al vir 22 jaar ’n Brigadier, maar het nooit belanggestel in bevordering nie. “Vir my het dit nie oor die rang gegaan nie, maar wel oor die liefde van die saak en om mense te kan dien”.

In 2020 het Crafford aansoek gedoen vir die Stasiebevelvoerderpos in Oudtshoorn. Sy wou graag nader aan haar ma wees om haar te versorg, maar haar ma is oorlede nét voordat sy na Oudtshoorn verhuis het.

Volgens Crafford gaan sy vir eers net rustig wees by haar huis in Mosselbaai. Sy sien ook baie uit om meer te stap, iets waarvoor sy baie lief is en min tyd gehad het die afgelope tyd. “Ek is ook baie opgewonde om my seun, Claude (25), wat ’n onderwyser is by Hilton College in Pietermaritzburg, in die nuwe jaar te sien”, het sy met duidelike opgewondenheid vertel.

Crafford sê een van die dinge wat sy verseker van Oudtshoorn gaan mis, is die kameradie wat daar tussen die verskillende instansies in Oudtshoorn heers en die samewerking onder mekaar. (Deur Lindi Brill)