TYDENS 2020 se Algemene Jaarvergadering van die Oudtshoorn Besigheidskamer – slegs 32 dae voor die landwye inperking as gevolg van Covid-19 ingeskop het – sou nie hy of sy bestuur hulle kon indink wat in 2020 voorlê nie. Dit was die woorde van Jaco Vorster, voorsitter van die Besigheidskamer by vanjaar se Algemene Jaarvergadering wat verlede Donderdagaand (25 Februarie) by die Kango Volstruisplaas plaasgevind het.
“Met vier dae tussen die president se afkondiging en die aanvang van die inperking het ek besef ek het nie net verantwoordelikhede as sake-eienaar nie, maar in my eerste termyn as voorsitter het ek ook verantwoordelikhede teenoor ons lede gehad,” het Vorster vertel.
Volgens hom het hy ten spyte daarvan dat niks sedert die aanbreek van die pandemie en inperking ooit weer dieselfde was nie, altyd hoopvol gebly en kon hy positiewe aspekte uit dié onvergeetlike jaar uitlig.
Die Besigheidskamer het onder meer gemeenskappe rondom Oudtshoorn met kospakkies bygestaan, en kon ook 23 ondernemings – wat neerkom op 115 families – help met voedselpakkies omdat die eienaars nie kon bekostig om hul werknemers te betaal nie.
“Hierdie was ’n noodsaaklike projek, en ek is baie bly dat ons dit kon vermag,” het hy gesê.
Die Besigheidskamer het deurgaans gepoog om kommunikasie met lede te verbeter sodat sake-eienaars ingelig kon bly; daar is afslag gegee ten opsigte van ledegeld, en die kamer het ook betrokke geraak by die Jerusalema-dansuitdaging wat die dorp se gemeenskap bymekaar gebring het.
“Ons het bande met die gemeenskap gebou soos nooit voorheen nie. Ons het die weermag genader om meer betrokke te raak by die gemeenskap, omdat hulle deel is daarvan. Selfs die gemeenskap van Bridgton het na ons uitgereik om saam te werk. Ek sien daarna uit dat ander gemeenskappe in Oudtshoorn dieselfde doen,” het hy gesê.
Buiten die aanmoediging van inwoners om eerder hul geld plaaslik te spandeer en so die plaaslike ekonomie te stimuleer, het die Besigheidskamer ook met die hulp van talle rolspelers reeds 1 700 bome in die Groter Oudtshoorn laat plant.
Ses suksesvolle gholfdae is aangebied, en tydens twee netwerkaande wat ingevolge die inperkingsregulasies kon plaasvind, was dit duidelik dat mense gesmag het na kontak met mekaar.
“Dit het net bewys hoe belangrik dit is dat ons aanhoudend bande met mekaar as lede en die gemeenskap bou.
“Dit sal ook in die toekoms vir ons baie belangrik wees om mense met mekaar te connect, want daar is nie meer plek in hierdie tye om net aan jouself te dink nie.”
Die nuwe verkose bestuurslede vir die volgende jaar is Vorster (voorsitter), Stephan Cornelissen (onder-voorsitter), Abri Ferreira, Hennie Davel, Jacobus Maloney, Tania Smit, terwyl Helene Badenhorst en Hano Hills as nuwelinge of “vakleerlinge” ingesluit is.
Twee gesoute bestuurslede, Gideon Badenhorst en De Villiers Neethling, het uit die bestuur bedank, maar hulle beskikbaar gestel om gekoöpteer te word en met sekere portefeuljes te help.
• Die jaarvergadering het ook ’n lekker verrassing ingesluit wat deur Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, gereël is. Hy het die bekende aktrise Liz Meiring na die vergadering saamgebring en Meiring het teenwoordiges aan haar lippe laat hang met vertellinge oor Oudtshoorn se interessante geskiedenis, haar verbintenis met dié Klein Karoo-dorpie, en het selfs ’n uittreksel uit een van haar boeke voorgelees. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Covid-impak sentraal in moeilike jaar vir besighede
Jaco Vorster aan die woord by die jaarvergadering van die Oudtshoorn Besigheidskamer. Foto: Stefan Skapie Goosen