Blossoms: Werk aan pyplyn begin

’N LOODGIETERSFIRMA asook ’n siviele ingenieursfirma betrokke by die installering van die Blossoms-pyplyn na Oudtshoorn het reeds aan die werk gespring.

Volgens Chris Swart, senior bestuurder: water en riool, is ’n totaal van R50 miljoen reeds vir die projek van die nasionale Departement Water en Sanitasie (DWS) ontvang waarvan R35 miljoen bestee is aan hoofsaaklik die finalisering van die ontwerp van die pyplyn en die aankoop van die materiaal daarvoor. Die oorblywende R15 miljoen sal gebruik word om die eerste deel van die pyplyn vanaf die Oudtshoorn se kant te installeer.
Die materiaal wat gekoop en afgelewer is, sluit die pype in asook me­ganiese toerusting wat spesiaal vervaardig moes word. Die installering daarvan sal plaas­­vind sodra die pyp­lyn voltooi is.

Die projek is in die vroeë 2000’s deur die Oudtshoorn Munisipa-li­teit geïnisieer. In 2018 egter het ’n noodwaterprojek as gevolg van die droogte afgeskop, met die doelwit om be­staande eksplorasie-boorgate by Blossoms as waterbron te begin gebruik. Die beraamde koste van die noodprojek is R100 miljoen.

Nog R50 miljoen is dus nodig om die projek te voltooi, hopelik met die hulp van die DWS of die Wes-Kaapse rege­ring

Met die huidige beskikbare fondse van R15 miljoen sal sowat 6 km van die pyplyn geïnstalleer kan word – aanvanklik oor munisipale en regeringsgrond sowel as privaatgrond waar oor­eenkomste met grondeienaars bereik is.

Nadat ooreenkomste verlede jaar nie met van die grondeienaars bereik kon word nie, het die munisipaliteit regsadvies ingewin en is ’n prokureur tans besig met ’n regsproses teen dié grondeie­naars.

Volgens Swart hoop die munisipaliteit om ooreenkomste met die meeste grond­eienaars buite die hof te bereik. (Deur Liesel le Roux)