Covid-19, stigma, skaamte, onkunde

SKAAMTE, skande, stigma, vrees en onkunde… Woorde wat deesdae byna sinoniem is met mense se reaksie tot die Covid-19-pandemie.

Toets jy positief, voel party van ons skaam of skuldig. Hoor jy van iemand wat positief getoets het, ontwikkel ander moontlik ’n vrees uit jou onkunde en moet hierdie mense “ontbloot” of “afge­sonder” word.

Die Hoorn het bogenoemde die afgelope paar weke herhaaldelik ervaar – uit kommentaar op ons Facebook-blad, oproepe en boodskappe uit die gemeenskap. Hierdie joernalis was self al die teiken van ’n handvol aanvalle omdat daar bloot oor positiewe Covid-gevalle berig is, bloot om die gemeenskap in te lig en beslis nie om vinger te wys en nog minder om iemand te ontbloot nie.

Hoekom is daar hierdie reaksie? Covid-19 is dan ’n virusiekte, en so ook wintergriep. Voel jy skaam oor jou wintergriep?

Dr Clifford van Wyk, ’n psigiater van Oudtshoorn, het lig hierop gewerp om die gemeenskap te help inlig oor dié gevoelens en reaksies:

Skaamte kom volgens Van Wyk daarop neer dat mense subjektief, dus vanuit jou eie gesigspunt, ’n emosionele gevoels­waarde beleef. “Ek herhaal: vanuit eie gesigspunt, wat daarop neerkom om verleë en verneder te voel, selfs te voel dat ek in ’n toestand verkeer wat tot uiterste oneer strek.

“Dus is skaam wees oor iets eintlik ’n self-bewuste emosie vanuit self-refleksie – “Ek voel daar is fout met my hele persoon of my menswees”.

Skaam-voel moet nie verwar word met skuldgevoelens nie – by skuld as ’n emosie is my self-refleksie dat daar fout is met die gedrag wat ek openbaar het,” sê hy.

Stigma, sê Van Wyk, ontstaan altyd van­uit afwesige kennis, dus onkunde.
“Covid-19 was die perfekte situasie vir stigma-ontwikkeling; daar is ’n negatiewe stigma help skep reeds vanaf die begin van die pandemie, toe daar nog baie min kennis oor die virus en die verloop van die toestand was.

Vanuit daardie onkunde is daar vrees gesaai, te verstane aanvanklik, deur die outoriteite in beheer op nasionale vlak byvoorbeeld, en sekerlik ook vanuit die elektroniese en pers-media.”

Van Wyk voeg by dat die aanvanklike voorspelling van 400 000 sterftes gehelp het om dié vrees by mense in te burger. “Die duidelike boodskap van afstand-handhawing, maskers dra en om obsessief hande te moet reinig ‘ter voorkoming van ’n dodelike siekte’ was absoluut nodig, maar was teelaarde vir die ontwikkeling van stigma… Op hierdie manier is dit by die breë publiek ingeprent dat Covid-19 iets vreeslik is, iets om voor baie bang te wees.”

Op die vraag hoekom party mense negatief reageer teenoor iemand met ’n positiewe Covid-19-status, sê Van Wyk die volgende: “Dit is onmenslik om mense te wil ontbloot en soos melaatses af te sonder of uit die samelewing te wil verwyder. Mense met hierdie houding maak die ‘denkfout’ dat hy of sy self ook dalk positief kan toets.

“Doen aan andere wat jy aan jouself gedoen wil hê! Aanvaar dat mense wat positief toets nooit opsetlik in hierdie situa­sie beland het nie, in hoë waarskynlikheid na enkele weke weer gesond sal wees, en na genesing weer ’n aanwins vir ons samelewing sal wees.”

Hy sê deur relevante inligting bekend te maak sonder om mense te identifiseer, kan help om die stigma te verbreek en mense hoop gee. “Meer duidelike inlig­ting oor sterfgevalle sal ook duidelikheid aan ouers met kinders met goeie gesondheid gee dat hulle weinig hoef te stres oor hul kinders wat weer terug gaan skool toe.”

Volgens Van Wyk is dit noodsaaklik dat mense wat positief toets vir Covid-19 ont­hou dat hul “self-refleksie” baie belang­riker is as hoe ander op hul positiewe status reageer.

“Beveg die stigma,” sê hy.

“Deur onsself en ander in te lig en op te voed oor die werklike feite rondom wat die siekte behels, beveg ons stigma. Sodoende bemagtig ons onsself, in plaas daarvan om skaam te voel oor die toestand.

“Toon meegevoel aan ander wat deur die krisis gaan, bied hulp binne jou vermoë aan, en wees emosioneel onder­steu­nend.

“Praat openlik oor hoe dit is om hier­die siekte te beleef. Deur dit volwasse, opbouend en sonder skaamte met andere te deel, help jy weer ander wat ook hierdeur in die gesig gestaar gaan word.”

As ’n laaste wenk sê Van Wyk dat ons selfgeldend (assertive) teenoor diege-ne met bevoor-oordelende houdings moet wees.

“Wat hulle te sê het, sê meer van hul eie onkunde as van die slagoffer van die siek­te.” (Deur Stefan Skapie Goosen)