Klassique trek ’n virtuele baadjie aan

“DIE 12de Klein Karoo Klassique gaan weens die Covid-19-pandemie en die huidige beper­kings wat as gevolg daarvan in plek is, nie vanjaar voort soos beplan nie.”

Só sê Hugo Theart, artistieke direkteur van dié fees, wat van 6 tot 10 Augustus op Oudts­hoorn sou plaasvind.

“Hierdie is ’n vreemde jaar en ter wille van die gesondheid en veiligheid van alle betrok­kenes en Oudtshoorn se mense, kan Klein Ka­roo Klassique nie vanjaar plaasvind in die normale formaat nie. Dit is ’n teleurstelling, maar ons moet nou verantwoordelik optree en sorg vir die herstel van die wêreld,” sê Theart.

Volgens hom word virtuele klassieke musiek­konserte vir die res van 2020 beplan.

“Dit is nou ’n tyd om innoverend te dink en nuwe maniere te vind om die uitvoerende kunste te laat leef. Ons is besig met verskeie projekte wat oor die volgende maand of twee die lig gaan sien. Dit is ’n uitdagende tyd, maar as ons saamstaan gaan ons daardeur kom. Een van die dae hou ons weer fees, maar intussen hou ons die kole warm!”

Meer inligting oor die fees sal binnekort op Klein Karoo Klassique se webblad en sosiale mediaplatforms bekend gemaak word.