DAAR was gister 7 aktiewe Covid-19-gevalle in die Groter Oudtshoorn, met 4 mense wat reeds herstel het. Die totaal vir die munisipaliteit is dus 11.
In Kannaland was daar nog net 1 geval met dié persoon wat reeds herstel het.
Die Wes-Kaap het teen Woensdag (2 Junie 2020) 10 267 aktiewe gevalle gehad uit ’n totaal van 24 564 bevestigde gevalle sedert die begin van die pandemie. 13 696 mense het reeds herstel, terwyl 601 mense in die provinsie gesterf het. Tweederdes van die land se Covid-19-gevalle is in die Wes-Kaap.
In ’n voorlegging verlede week voor die nasionale vergadering, het die nasionale minister van gesondheid, dr Zweli Mkhize, aangedui dat die Wes-Kaap se getalle elke 9 dae verdubbel, terwyl die res van die land se getalle elke 12 dae verdubbel.
Die piek van die pandemie word iewers tussen middel Julie en middel Augustus verwag, met die verwagting dat die Wes-Kaap se piek vroeër as die res van die land sal bereik.
Teen gister het die totale aantal Covid-19-gevalle in Suid-Afrika op 35 812 gestaan. (Deur Liesel le Roux)