INWONERS van die Groter Oudtshoorn kan ’n sug van verligting slaak nadat die raad Vrydag (29 Mei 2020) tydens ’n virtuele raadsvergadering besluit het om die beoogde munisipale tariewe vir 2020/2021 te verlaag. Die
Groter Oudtshoorn se begroting vir 2020/2021, Geïntegreerde Ontwikkeleingsplan (GOP) en ruimtelike ontwikkelingsplan is by die vergadering goedgekeur.
Waar tariewe oorspronklik gemiddeld met tussen 6% en 12% verhoog sou word, word dit nou, behalwe in een geval, met slegs 5,5% verhoog.
Die uitsondering is die styging van 6,22% in die elektrisiteitstarief soos wat dit deur die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) vasgestel is.
Dié besluit om die tariewe te verlaag is geneem op grond van die nadelige ekonomiese impak van Covid-19 op inwoners asook na verskeie insette van die publiek. Dit sluit besware en voorstelle in van die Oudtshoorn Besigheidskamer, besware en ’n petisie met 1 700 name van die burgerregteorganisasie AfriForum, besware van Graham Pelham, ’n inwoner, asook verskeie briewe met besware van Nic Barrow, ’n sakeman van die dorp.
“Dit is een van die moeilikste begrotings wat ons in die laaste jare moes goedkeur,” sê die burgemeester, Colan Sylvester.
“Ekonomiese vooruitsigte is somber; mense verloor hul werk; die land en munisipale gebied word deur regulasies van die inperking verlam.
“Laasgenoemde sal ’n direkte invloed hê op die vermoë van verbruikers om munisipale rekeninge te betaal. Party munisipale inkomstestrome is bykans weg, veral dié aan toerisme gekoppel.”
Sylvester het die gemeenskap bedank vir hul kommentaar op die begroting en besware teen die voorgestelde tariefverhoging. “Ons wil ons waardering uitspreek vir die gebruik van aanlyn- of virtuele platforms wat vir openbare kommentaar geskep is, omdat een-tot-een openbare deelname nie toegelaat is tydens die inperking nie.
“Die munisipaliteit kon egter nie heeltemal afsien van ’n tariefverhoging of ’n betalingsvakansie aan verbruikers bied nie, aangesien dit ernstige gevolge sou hê op die finansiële volhoubaarheid van die munisipaliteit en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (COGTA) ook nie betalingsvakansies toelaat nie. Die munisipaliteit het besluit om eerder kontantreserwes te gebruik en om tariefverhogings te verlaag.
Die 2020/2021-boekjaar skop op 1 Julie 2020 af.
• Die begroting en tariewe, GOP en ruimtelike ontwikkelingsplan is beskikbaar by www. oudtshoorn.gov.za. (Deur Liesel le Roux)
Covid-19 en inwoner-versoeke lei tot verlaging van munisipale tariewe
