“COVID-19-GEVALLE in die Tuinroete-distrik het die afgelope 14 dae met 196% toegeneem,” het Zee Bricles, die distrik se direkteur van gesondheid op 16 Oktober gesê.
Die styging kan toegeskryf word aan die onlangse verslapping van die inperkingsmaatreëls, en is bepaal deur die voorafgaande 14 dae met die vorige 14 dae te vergelyk.
Bricles het ’n beroep op inwoners gedoen om super-verspreidingsbyeenkomste – plekke met baie mense, swak ventilasie en nabye kontak – te vermy.
“Ons weet hoe vinnig die virus kan versprei, en dit is nou die tyd dat ons ons bes moet doen om ’n tweede golf te voorkom.
“Ons as individue en lede van gesinne en gemeenskappe is daarvoor verantwoordelik om onsself en diegene naby ons te beskerm.
“Ons moet ons in elke situasie afvra hoe ons dit vir onsself en ons geliefdes veiliger kan maak, met die wete dat ons die virus maklik en onwetend kan oordra of huis toe na ons gesinne kan neem.”
Dié gesondheidsdienste weer ingestel
• Die Wes-Kaapse departement gesondheid het die herinstelling van sekere gesondheidsdienste – soos vir diabetes, hipertensie, MIV, tuberkulose, kinder- en vrouegesondheid – insluitend inentings, aangekondig.
Volgens die woordvoerder in die Tuinroete, Nadia Ferreira, is dienste geïdentifiseer wat ’n lae maar tog groot impak het.
“Dié dienste, wat aansienlik verminder is tydens die pandemie, sal ’n beduidende langtermyn-impak hê op mense wat nie ingeënt is nie, en nie opvolgafsprake en noodbehandeling geskeduleer het nie.
Sy sê lewensreddende operasies (soos kankeroperasies en dringende hartoperasies) sal nou geprioritiseer word, terwyl die meer dringende gevalle eerste behandel word.
“Noodoperasies sal ook voortgaan.”
Ferreira het ook gesê dat ’n bewusmakingsproses van stapel gestuur sal word by plekke waar mense bymekaarkom asook in gemeenskappe.
Die doel daarvan is om inwoners se aandag te vestig op basiese gesondheidsdienste, met die fokus op algemene gesondheid, welstand en deurlopende sorg vir kwesbare groepe.
“Wees op die uitkyk vir hierdie veldtog in winkelsentrums, taxi’s, terwyl u in die busskuiling wag en u hande in waskamers by winkelsentrums was.
“Die bewusmakingsaksie wil ook inwoners herinner dat die beste manier om ons vorentoe te laat beweeg, is om ’n masker te dra, ons hande skoon te hou en minstens 1,5 meter afstand van ander mense te hou,” het sy bygevoeg. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Covid-19-gevalle in streek neem 196% toe
