Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Oudtshoorn wat tans ’n vonnis van agt jaar uitdien vir kabeldiefstal is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof nog elf jaar effektiewe ge- vangenisstraf opgelê nadat hy weer aan kabeldiefstal skuldig bevind is! Hy is ook skuldig bevind op drie klagtes van besit van vermoedelik gesteelde eiendom en beskadiging van belangrike munisipale infrastruktuur.
Die man is op 11 Oktober 2018 in Adderleystraat betrap met koperkabels van Telkom. Op 21 November 2018 is hy in besit betrap van ’n motorfietsbattery en op 7 Januarie 2019 met ’n gesteelde JVA Champion-battery.
Op 11 Maart 2019 is hy in die omgewing van Onverwacht in hegtenis geneem met 15 meter se vermoedelik gesteelde elektriese kabels. Die kabels het aan die Oudtshoorn Munisipaliteit behoort en verband gehou met die beskadiging van belangrike infrastruktuur by die Oudtshoorn Lughawe.
Streeklanddros Sylvia Mandla het met vonnisoplegging gesê die beskuldigde is aan ernstige misdrywe skuldig bevind en ook nie ’n eerste oortreder nie.
Hy is drie jaar tronkstraf opgelê vir diefstal, drie jaar vir die besit van gesteelde goedere en agt jaar vir die beskading van belangrike infrastruktuur.
Die landdros het gelas dat die vonnis vir die besit van gesteelde goedere samelopend met die vonnisse vir diefstal en beskadiging van infrastruktuur uitgedien kan word vir effektiewe tronkstraf van elf jaar.
Die hof het ook ’n versoek van Darries se regsverteenwoordiger dat die vonnisse samelopend met die vorige vonnis van agt jaar uitgedien kan word, van die hand gewys.